23.5.2012
 Argiewe:

Vandag se Spotprent


Gene Travers

Market indicators


23 Mei 2012

30 Bruidspare gekies


Advertensie
Advertensie

Ons Argiewe

16.02.12

Graf nooit toegegooi

15.02.12

Ongeluk eis bekende in perdrykringe

13.02.12

KK oor vingers getik

14.02.12

Drie fetusse binne ’n week

16.02.12

Kuberkrakers steel miljoene

3.09.2010

Kleine Namibia DMC staan op skeur

© Republikein
MET tyd wat stadig maar seker uitloop vir partye om hulself gereed te kry vir die verkiesing van nuwe streek- en dorpsrade, staan een van Namibië se kleinste opposisiepartye op die drumpel van verbrokkeling oor ’n voorstel aan lede van die Namibia Democratic Movement for Change (Namibia DMC) om in November liewer hul kruisies by Swapo te trek.

“Koning” Frans /Goagoseb, president van die party, het teenoor Republikein sy beroep op ’n saamspanpoging met die regerende party bevestig.

Volgens hom is daar geen ander keuse midde die voortgesette ongesonde en ego-gedrewe bakleiery onder opposisiepartye terwyl hulle die mantel van sogenaamde samewerking na die publiek draai nie.

Namibia DMC se mnr. Adam Baisako, me. Maria Lourence en ander leiers is egter vasbeslote om volstoom voort te gaan met planne om kandidate in minstens agt streke te stel.

Die twis in die party kom nadat die amptelike opposisie, die Rally for Democracy and Progress (RDP), aangedui het dat hy nie in die komende verkiesings ander opposisiepartye se kandidate sal ondersteun nie, terwyl ook die All People’s Party (APP) en Congress of Democrats (CoD) voorbehoude het oor die samewerking.

Hewige binnegevegte in Namibia DMC duur al vir maande.

Laat in Junie het mnr. /Goagoseb aanvanklik aangedui dat hy vir eers sy leiersrol in die party sal verlaat om aandag aan die struweling oor die tradisionele leierskap van die Damara-volk te skenk. Mnr. Baisako was onder die indruk dat hy hiermee die volle mandaat ontvang het om reëlings vir die November-verkiesings aan die gang te sit.

Ná die twee agter die skerms hewig kop gestamp het, het mnr. /Goagoseb egter in Julie ná ’n vergadering op Gobabis aangekondig dat mnr. Joseph Kauandenge van sy “vrywillige verlof” sal terugkeer om weer sy pos as sekretaris-generaal in te neem. Deelname aan enige opposisie-koalisie is terselfdertyd summier afgeskiet, terwyl ’n partykongres eers vir Maart 2011 belê is.

Vroeg in Augustus het mnr. Kauandenge egter in die openbaar aangekondig dat hy niks meer met Namibia DMC te make het nie.

“Ons het hom nie nodig nie,” was mnr. /Goagoseb se reaksie. Volgens hom het hy intussen nuwe “korrupsie” deur mnr. Kauandenge ontbloot en skrik hy nie vir die voormalige sekretaris-generaal se koue pampoen dreigemente om regstappe in te stel nie.

“Dit is ’n ding wat hy (mnr. /Goagoseb) nooit met ons bespreek het nie,” het mnr. Baisako oor die samewerkingsplan met Swapo gesê. “Hy sal ons amptelik in die pad moet steek voor hy ons Swapo toe sleep.”

Volgens mnr. Baisako het mnr. /Goagoseb reeds van sy presidentskap afstand gedoen en kan hy nie sy brood aan beide kante gebotter wil hê nie. “Ons bly deel van die koalisie,” het hy terselfdertyd verseker.

Mnr. Baisako self wil in November op Gibeon staan. Volgens hom is die verkrummeling van die party die werk van “kamstige stigterslede” wat weens geldgierigheid en om “hulself meer verkoopbaar te maak” koers en visie verloor het. “Dis die begrafnis van die party,” het mnr. Baisako gebieg.

Mnr. /Goagoseb verwerp die doemprofesie. “Glad nie, glad nie,” het hy geantwoord op die vraag of Namibia DMC besig is om tot niet te gaan.

“Ek het groot steun,” het die man gesê wat in November 2009 as presidensiële kandidaat landwyd net 1 760 stemme kon werf. Net mnr. Attie Beukes van die Kommunistiese Party het swakker gevaar.

In die parlementêre verkiesing het Namibia DMC 1 770 stemme gekry, met Aminuis, Gibeon, Gobabis, Steinhausen, Kalahari en Windhoek Landelik as die party se sterkste kiesafdelings.

In 2004 se verkiesing van lede van die Nasionale Vergadering het die party met 4 380 stemme meer as twee keer soveel steun gehad. In dieselfde jaar se streekraadverkiesings het Namibia DMC in 20 kiesafdelings ’n totaal van 3 702 stemme getrek.

“Die party gaan net van krag tot krag,” het mnr. /Goagoseb ondanks die kwynende verkiesingsprestasie aangevoer.

Mense soos mnr. Baisako is volgens hom titelbejag. “Ek moet seker maak dat ek die party in die regte mense se hande laat,” het mnr. /Goagoseb benadruk.

“Ek het hierdie ding sit en dophou,” het hy oor die besluit gesê om Swapo te ondersteun. “Ek het my eie ondersoek gedoen en die voor- en nadele versigtig opgeweeg.”

Volgens mnr. /Goagoseb is die grootste les wat hy uit jare se “slagofferskap” geleer het dat saamstaan met die opposisie niks help nie. Sy standpunt is dat veel meer vermag kan word deur Swapo in landsbelang van binne op die regte pad te help.

Mnr. Baisako het die moontlikheid van regstappe teen mnr. /Goagoseb geopper as dié weer sy mond namens Namibia DMC open.

Hy en sy ondersteuners wil in September ’n mini-kongres hou om kandidate te nomineer en partylyste vir die November-verkiesings op te stel.