Kersfees in die blikkieshuise

KERSFEES in 7de Laan, Havana en Goreangab is sommer alles in een pot; ?n byeenkoms vir families, ?n kans vir ?n bietjie genot, ?n tyd van droefheid, of maar net ?n gewone dag vir die hopelose wat op God se genade wag vir ?n ete-uitnodiging of ?n geskenkie. Vir elkeen het Kersfees ?n afsonderlike betekenis alhoewel die primêre betekenis daarvan almal in dieselfde bootjie van genot en blydskap plaas. ?Krismis is krismis, ?n tyd van blydskap en genot,? sê Jan Molele, ?n inwoner van Sonderwater in die Goreangab nedersetting. Vir Jan is Kersfees in Sonderwater so lekker dat dit ?n mens se gedagtes aan ?n Kersfees in Sonderwater vasnael.

?Ons braai hier voor ons sinkplaathuisie en dit voel baie lekker. Mense is min en geweld is relatief laag. Wat meer sal ?n mens begeer?? wonder Jan. Vir Veripi Selemo en Sisqo Aune is Kersfees in Sonderwater die teenoorgestelde van wat dit moet wees. Mense kyk te diep in die botel en dan baklei hulle onder mekaar. ?Ek dink daar is ?n groot misverstand van hoe ?n mens behoort te geniet hier in Sonderwater,? sê Sisqo.

Die nedersettings word deur sjebeens oorheers en vir die mense aan die bestuur daarvan, is die betekenis van Kersfees meer ?n kwessie van wins en verlies. ?Besigheid is baie swak gedurende Kersfees,? sê ?n kroegeienaar wat verkies om naamloos te bly. Eerste indrukke is immers blywend. Clementine Kahitji, ?n inwoner van 7de Laan, glo dat Kersfees ter gedagtenis van die geboorte van Christus gevier word, daarom versier sy haar huis sodat sy en haar kinders die gevoel van Kersfees kan kry, sê sy. ?My ma het altyd die kersbos (Sarcocaulon burmanni) gaan kry om ons huis vir Kersfees te versier.

Ongelukkig moet ?n mens ver stap om ?n kersbos te gaan kry en hierdie wêreld is deesdae onveilig, daarom pluk ek enige boompie wat ek kan kry en versier dit soos my ma dit gedoen het. Ek sit dit op my spieëlkassie sodat dit my elke oggend aan die geboorte van my Heiland kan herinner,? voeg sy by.

Die generasiegaping raak duideliker met wat die betekenis van Kersfees vir verskillende ouderdomsgroepe in dieselfde woning inhou. Vir die ouer gemeenskap verskil vandag se Kersfees en dié van minstens drie dekades gelede hemelsbreed. Oupa Joshua Tjiho, wat ook in 7de Laan woonagtig is, wonder of dinge nou duur geraak het en of liefde nie meer bestaan nie.

?Om ?n geskenk gedurende Kersf eeste kry, moet jy vra, maar in die ou jare was dit uit eie wil gedoen,? voeg hy by. ?Die tradisie van Kersfees lê ses voet onder die grond en ons leef in ?n tyd van elkeen vir homself, God vir ons almal. Mense sterf in motorongelukke as gevolg van dronkbestuur en vandag se jong mense baklei nie sonder om mekaar te steek nie. Nou moet ons Kersfees in die begraafplaas deurbring,? treur Joshua. Vir Nancy Shituka en haar seuntjie, ?n inwoner van Havana, is Kersfees iets van die verlede. Hulle wag maar net op ?n barmhartige samaritaan om vir ete uitgenooi te word.

?Vir ons is Kersdag maar net ?n normale dag. Ek is werkloos en kan nie eens geskenke of kos vir my en my kind bekostig nie. As ons nie uitgenooi word nie sit en kyk ons maar hoe ons buurmense braai en drink,? vertel Nancy.

Kategorie: 

Facebook kommentaar