Kepler vind ’n maat vir aarde

DIE ontdekking van ?n bewoonbare planeet waarop daar moontlik kontinente, oseane en lewende organismes voorkom, is vir Namibiërs besonder goeie nuus.

Dit is omdat Namibië se eie ruimtewetenskaplike, dr. Japie van Zyl, ?n projekleier is by die Amerikaanse ruimte-agentskap, Nasa, se Kepler-sending wat sedert 2009 na planete soortgelyk aan die aarde in die bewoonbare sone van sterre binne die Melkweg soek.

Van Zyl, wat in Kaokoland grootgeword en op Outjo skoolgegaan het, is assistent-direkteur van projekformulering en strategie by Nasa se Straalaandrywingslaboratorium (JPL).

Nasa se Kepler-span het Maandag bekend gemaak die planeet Kepler 22b wentel om ?n ster (G5), soortgelyk aan die aarde se son.

Dit is die eerste planeet benewens die aarde wat in ?n bewoonbare sone van sy son af geleë is en waar lopende water moontlik op die oppervlak voorkom.

Dit is reeds twee jaar gelede ontdek, maar nuwe navorsing het nou bewys hierdie eksoplaneet (buite ons sonnestelsel) is die naaste aan die aarde van alle planete waarvan ruimtewetenskaplikes weet.

Daar is al 2 326 planete met die Kepler-teleskoop gevind, maar hierdie is die eerste een waarvan die bewoonbare afstand vanaf sy son bevestig kon word. Daar is nog 54 planete wat toustaan vir dié eer, maar hul status wat bewoonbaarheid betref, is onbevestig.

Kepler 22b is omtrent twee keer so groot soos die aarde en die gemiddelde temperatuur is ongeveer 22° Celsius. Dit beskik oor die regte tipe atmosfeer om lewe te kan onderhou.

Wat keer dat aardlinge ooit hierheen kan uitwyk, is dat hierdie planeet 600 ligjare van die aarde af geleë is. Teen die spoed van lig ? 300 000 km/s ? sal dit iemand 600 jaar neem om daar te kom.

Van Zyl het vroeër verduidelik die sogenaamde ?bewoonbare sone? waarheen die teleskoop se ruimte-oog kyk, is dié gebied in die Melkweg waar planete se temperature sodanig is dat water daarop kan voorkom. ?En as daar water is, kan daar lewe wees.?

Hy het in ?n Skype-onderhoud gesê die teleskoop is so ontwerp dat dit vir die duur van die US$600 miljoen-sending van vier jaar sowat 170 000 sterre elke oomblik van die dag kan dophou.

?Die teleskoop neem waar wanneer ?n planeet voor ?n ster in die bewoonbare sone verbybeweeg omdat die ster se lig effens dowwer word. Die tyd wat dit vir ?n planeet neem om om die ster te wentel, gee die navorsers ?n aanduiding van die planeet se grootte. As die planeet ?n jaar neem om om sy ster te wentel en daardie ster is ongeveer so groot soos ons son, weet ons die planeet is ongeveer so groot soos die aarde. En dit is ?n aanduiding dat daar water kan wees en lewe gevolglik moontlik is,? sê Van Zyl.

Dr. Douglas Hudgins, Keplerwetenskaplike, het Maandag gesê die bevestiging van Kepler 22b se bewoonbaarheid is ?n ?groot stap nader om die aarde se tweeling te vind. Die sending probeer die grootste vrae oor ons plek in die heelal beantwoord.?

Kategorie: