Vandag se Spotprent


Gene Travers

Market indicators


22 Februarie 2012

Advertensie
Advertensie

Ons Argiewe

16.02.12

Graf nooit toegegooi

15.02.12

Ongeluk eis bekende in perdrykringe

13.02.12

KK oor vingers getik

14.02.12

Drie fetusse binne ’n week

16.02.12

Kuberkrakers steel miljoene

27.01.2012

Kaunda kry huis in Eros

© Francois Poolman
So lyk die huis wat deur die Regering aan dr. Kenneth Kaunda geskenk is.

’n ZIMBABWIESE gesin moes verlede week ’n dubbelverdiepinghuis in een van Windhoek se spogbuurte vir ’n beskeie staatshuis verruil omdat die Regering dit aan die gewese Zambiese president, dr. Kenneth Kaunda, gegee het.

Mnr. Erkki Nghimtina, Minister van Werke en Vervoer, het na aanleiding van ’n skriftelike navraag bevestig dat “die betrokke huis aan dr. Kaunda gegee is as ’n blyk van waardering vir sy rol in die Namibiese vryheidstryd”.

Volgens ’n ingeligte bron moes werkers van die Ministerie van Werke en Vervoer verlede week skarrel om die verwaarloosde staatshuis vir die Zimbabwiese gesin leefbaar te maak voordat hulle intrek.

Met Republikein se besoek aan dié huis, het ’n lid van die gesin gesê hulle moes “die groot huis” in opdrag van die Ministerie van Werke en Vervoer ontruim “omdat (dr.) Kaunda dit moet kry”. By die Kaundas se nuwe Windhoek-tuiste was daar egter nie ’n teken van lewe nie.

Nghimtina het bevestig die luukse huis is bewoon deur ’n Zimbabwiese uitgewekene wat in die kantoor van die Prokureurgeneraal, dr. Albert Kawana, werk. “Uitgewekenes wat vir die Regering werk, kry staatshuise as deel van hul werkskontrak.”

Dié gesin, sê hy, is in opvolg op die besluit om vir dr. Kaunda ’n huis as geskenk te gee, deur sy Ministerie na “’n ander beskikbare staatshuis” verskuif.

Op ’n vraag of Kaunda die huis net sal gebruik wanneer hy Namibië besoek en of hy en sy familie voltyds daar sal woon, sê die Minister: “Dr. Kaunda sal die huis gebruik soos hy goeddink. Hy het nie vir permanente verblyf in Namibië aansoek gedoen nie.”

Die 87-jarige oudpresident is in Augustus verlede in ’n private hospitaal in Windhoek behandel toe hy siek geword het terwyl hy in Namibië aan sy outobiografie gewerk het. Sy seun, dr. Waza Kaunda, het aan die media gesê sy pa is deur ’n virusinfeksie platgetrek.

Nghimtina het voorts daarop gewys dat die goeie bande tussen Namibië en Zambië uit die tyd van die stryd om politieke onafhanklikheid dagteken. “Baie Namibiërs het van die 1960’s tot die 1980’s uit die land gevlug om die eerste patriotiese oorlog vir die bevryding van Namibië te voer en het in lande soos Zambië gewoon.”

Swapo het sy militêre operasies vanuit kampe in Zambië uitgevoer en die Verenigde Nasies se Instituut vir Namibië, wat later die Universiteit van Namibië sou word, was in Lusaka gesetel, sê hy.

“Die ondersteuning wat Namibië van Zambië gekry het, is onberekenbaar. As ’n blyk van waardering vir Zambië se ondersteuning aan Namibië en spesifiek om dankie te sê aan dr. Kaunda vir sy enorme bydrae tot die vryheidstryd, het die Swapo-regering, wat gekies is as die verteenwoordiger van alle Namibiërs, besluit om die huis aan hom te skenk en die Kabinet het dit ondersteun.”

Dr. Kaunda was vanaf 1964 tot 1991 Zambië se president en was een van die vurigste kampvegters vir politieke verandering in Suider-Afrika.