9.02.2012 Katima Mulilo se kameeldorings afgekap
 Die gewraakte kameeldoringbome wat op Katima Mulilo afgekap is om plek te maak vir plaveisel en parkeerplek by ’n gemeenskapsaal.
DIE strydbyle is opgegrawe op Katima Mulilo oor die beweerde onwettige afsaag van kameeldoringbome op die dorp. Alle aantygings van ’n vermeende knoeiery is egter dié week ten sterkste deur die waarnemende hoof uitvoerende beampte van die dorpsraad en die direktoraat van Bosbou ontken.
In ’n nuuswenk aan Republikein is aangevoer dat die kameeldoringbome, ’n beskermde spesie, sonder die nodige permitte afgesaag. Dit is glo die tuiste van uile en vanweë die geloof dat “baie uile laat mense doodgaan”, het skynbaar verdere stukrag aan die besluit verleen. In die plek van die bome gaan afdakke opgerig word. Dit, volgens die nuuswenk, gebeur sonder tenders en sonder goedkeuring van die raad.
Die hele afkapsessie het die dorpsraad na bewering N$40 000 uit die sak gejaag en op die koop toe is die bome nog nie verwyder nie. Verder is die maatskappy wat vir die afsaag verantwoordelik was, glo nie geregistreer nie en behoort dit na bewering aan Katima se waarnemende hoof uitvoerende beampte, mnr. Nawa Nawa.
Nee, sê Nawa. Die afkappery volg op ’n dorpsraadsbesluit om die ou nasionale vergaderinggebou langs die Ngweze-poskantoor teen ’n beraamde koste van N$500 000 op te knap.
Nawa het verduidelik dat die gewraakte bome se wortels en takke groot skade aan die betrokke saal berokken het. “Die reusebome se wortels het veroorsaak dat die mure en fondasies begin kraak het. Vlae wat voor die gebou hang, se sigbaarheid is ook deur die takke versper.”
Parkeerplek was ’n verdere probleem en volgens Nawa is lankal besluit om die dorp se drie gemeenskapsale van voor tot agter op te knap. Een saal het verlede jaar ’n nuwe baadjie aangetrek en die jaar is dit die NV-saal se beurt met opknappingswerk wat insluit parkeerplek en plaveisel in die plek van die afgekapte kameeldoringen mopaniebome. Binnenshuise opknapwerk word ook onder meer aan die plafonne en die elektrisiteitsnetwerk gedoen.
Volgens Nawa word die laaste gemeenskapsaal op die dorp aanstaande jaar opgeknap. Oor die uile se beweerde skuilplek wat nou daarmee heen is, het Nawa gesê hy is nie hiervan bewus nie.
“Daar is te veel beweging en geraas onder die bome vir hulle om hier te wou nesmaak.” Die NV-saal word vir verskeie funksies, insluitend gemeenskapsvergaderings en gedenkdienste, gebruik. “Dit moet mos goed lyk en ons trots wees.”
Volgens Nawa val die opknappingswerk onder die vaandel van die dorpsraad se afdeling vir gemeenskapsdienste wat onder meer verantwoordelik is om die dorp skoon te hou en bome te snoei. Vir die snoeiery het Nawa gesê die dorpsraad het nou selfs ’n “saagmasjien” aangekoop.
Intussen sê die direktoraat van Bosbou hy het geen jurisdiksie oor beskermde bome, waaronder kameeldoringbome, indien dit binne die dorpsgronde van Katima Mulilo val nie. Die hoof bosboutegnikus vir die Caprivistreek, Jonas Mwiikinyhi, het by navraag gesê kragtens die Bosbouwet berus toestemming om die betrokke bome af te kap of nie, by die plaaslike owerheid, in die geval die Katima Mulilo dorpsraad.
“Indien ’n kameeldoringboom binne dorpsgronde val, is die Bosbouwet nie van toepassing nie,” het Mwiikinyhi bevestig. Wanneer dit egter buite dorpsgronde val, word ’n permit wel van die direktoraat Bosbou vereis om dit te verwyder.
|