
Klein Jacky Siwambo in die kliniek op Hoachanas.
DIE ontbering van die driejarige Jacky Siwambo wat vir drie dae en twee nagte in die veld op die plaas Panama naby Hoachanas rondgedwaal het, het die harte van Namibiërs en die wêreld vasgevang.
Die rateltaai seuntjie is nadat hy Woensdag in ’n erdvarkgat gevind is waar hy vir die polisie se helikopter weggekruip het, na die kliniek op Hoachanas geneem waar hy vir ontwatering behandel is. Hy moes binneaarse voeding ontvang.
Volgens suster Brenda Windstaan van die kliniek op Hoachanas was die kind baie honger en moeg toe sy hom behandel het.
“Hy was erg ontwater en ons moes ’n drup aan hom sit om die elektroliete en minerale in sy gestel terug te kry.
“As gevolg van die tekort was sy polsslag baie vinnig, wat my bekommerd gemaak het.”
Suster Windstaan sê die dokter van die Mariental hospitaal het aanbeveel dat Jacky daarheen vir waarneming geneem word. Jacky en sy ma is in die ambulans gelaai en hulle het die nag op Mariental deurgebring.
Die verpleegster in beheer van die kindersaal van die hospitaal op Mariental, suster Notty Mokatu, het gesê die brawe klein seuntjie is gisteroggend deur die dokter ondersoek en toe ontslaan.
Intussen het inwoners van die dorp gister klere en skoene vir die klein seuntjie, wat wilde diere en koue moes trotseer en ’n geskatte 30 kilometer deur die veld gestap het, by die polisiestasie op dorp afgelaai.
Volgens kommissaris Kobus Meyer, bevelvoerder van die polisie in die Hardap-streek, is hy gister deur oproepe van weldoeners vanuit Namibië en selfs van oorsee oorval.
“Almal wil weet hoe hulle die klein seuntjie kan help. Die mense wat naby woon, het reeds klere en skoene by die polisiekantoor afgelaai en nou moet ons dit op die een of ander manier op Hoachanas kry sodat dit vir die kind gegee kan word.”
Die kleuter het Maandagmiddag van sy skaapwagterpa by ’n veepos afgedwaal en ’n reusesoektog uit die Hardap-streek is van stapel gestuur. Spoorsnyers van die polisie het hom uiteindelik in ’n erdvarkgat gekry.
Jacky, wat in ’n stadium van sy oorlewingstog sy tekkies uitgetrek het om kaalvoet koers te kies, is selfs nog te klein om sy skoene self aan te trek en spoorsnyers het in ’n stadium op die onpas spore afgekom nadat hy reeds ’n nag alleen in die veld deurgebring het.
Mnr. Hentie Jansen, eienaar van die plaas Panama waar die soektog na die kind plaasgevind het, het gesê sy buurman het hom vertel dat dit Maandagaand so koud was dat van die krippe op sy plaas gevries het. Jacky het net ’n onderhempie en ’n kortbroek aangehad.