23.5.2012
 Argiewe:

Vandag se Spotprent


Gene Travers

Market indicators


22 Mei 2012

30 Bruidspare gekies


Advertensie
Advertensie

Ons Argiewe

16.02.12

Graf nooit toegegooi

15.02.12

Ongeluk eis bekende in perdrykringe

13.02.12

KK oor vingers getik

14.02.12

Drie fetusse binne ’n week

16.02.12

Kuberkrakers steel miljoene

19.01.2012

Impregilo se skarlaken verlede

’n DRUKGROEP op Keetmanshoop het op die vooraand van die Tenderraad se besluit môre oor wie die kontrak van sowat N$2 miljard vir fase een van die Neckartaldamprojek moet kry, aangedring dat dit aan die omstrede Italiaanse konstruksiereus Impregilo SpA gegee word.

Volgens ’n ingeligte bron het van die konstruksiegroepe in die tenderresies die afgelope dae druk vergader – onder andere om hul opsies te bespreek sou daar ná môre aanduidings van enige ongerymdhede in die tenderproses wees.

Benewens die boete van US$2,04 miljoen wat die Hoërhof in Lesotho die maatskappy vir omkopery en korrupsie in die Lesotho Hoogland Waterprojek opgelê het, word Impregilo – wat glo Mafia-bande het – van talle ander onreëlmatighede beskuldig.

Transparency International (TI) het ná die korrupsieskandaal in Lesotho gewaarsku omkopery, bedrog en afpersing benadeel ontwikkelende lande en lei tot armoede en berokken groot ekonomiese skade. Volgens ’n opname deur die waghondliggaam vir sy indeks van omkoopgeldbetalers (BPI), dra die konstruksiebedryf die onbenydenswaardige stigma as die wêreld se mees korrupte.

Die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling (OECD) het in 2006 in ’n verslag oor korrupsie in die konstruksiebedryf gewaarsku dat omkopery van amptenare om tenders te kry, veroorsaak dat kwotasies soms met tot soveel as 30% gelaai word.

Mnr. Ernst Jash, voorsitter van die Hendrik Tseib-skakelkomitee (HTLC) op Keetmanshoop, het Dinsdagaand tydens ’n gemeenskapsvergadering luidens Nampa aangedring dat “die Regering, die Tenderraad en die beskermhere” die tender aan Impregilo toeken. Volgens hom is dit die enigste maatskappy met die “nodige kundigheid, kennis en inderdaad bevoegdheid.”

Dié skakelkomitee het gesê dat die Keetmanshopers nie ten gunste daarvan is dat die tender na China Henan International Corporation gaan nie – onder andere omdat die Italianers meer werkgeleenthede gaan skep en voorheen benadeelde ondernemings en plaaslike kontrakteurs gaan bevoordeel.

Luidens ’n 2007-verslag deur die Italiaanse kleinsakegroep, Confesercenti, was Mafiagroepe se inkomste van €63 miljard in 2006 sowat €2,78 miljard meer as dié van die Italiaanse oliemaatskappy ENI en bykans twee keer meer as Fiat s’n.

Italië se vier grootste Mafiaorganisasies, Cosa Nostra, Sacra Corona Unita, Camorra en ’Ndrangheta, is volgens Confesercenti voortdurend besig om hul kloue in wettige organisasies soos die konstruksiebedryf te slaan.

Bendes beheer volgens die verslag glo werkers op konstruksieterreine en groot ingenieursgroepe soos Impregilo het glo bande met die Mafia, hoewel woordvoerders dit ten sterkste ontken.

Volgens Italiaanse koerantberigte het die toekenning van die tender vir die bou van die swewende brug oor die Straat van Messina aan Impregilo wenkbroue laat lig. Die brug sal Italië met Sicilië verbind en daarmee saam die Siciliaanse Mafia, die Cosa Nostra, met die ’Ndrangheta.

In ’n artikel “A Bridge over Troubled Water” word bespiegel dat Impregilo se korrupsie-eskapades in Lesotho hom geleer het hoe om die kompetisie tussen kompeterende Mafia-subkontrakteurs te hanteer.

In 2009 het Marianne Arens aangevoer die Abruzzo-aardbewing wat 40 000 mense dakloos gelaat het, het terselfdertyd konkelwerk in die boubedryf oopgevlek.

Impregilo is daarvan beskuldig dat hy ’n swak gehalte sement en verswakte staalversterkings gebruik het met die bou van die San Salvatore hospitaal in L’Aquila en dat dit die rede was waarom hierdie hospitaal inmekaar getuimel het.

Impregilo was saam met die kontrakteurs Dumez en Lahmeyer betrokke by die bou van die Yacyretá-dam in Argentinië en Paraguay, wat deur Argentinië se pres. Carlos Menem is as ’n “monument vir korrupsie ” beskryf.

Volgens Rafael Bolanos, dekaan van die skool vir siviele ingenieurswese by Guatamala se San Carlos Universiteit, het Impregilo en Lahmeyer “tussen US$350 miljoen en US$500 miljoen aan omkopery bestee” om die kontrak vir die bou van die Chixoy-hidroelektriese skema te kry. Hy sê dié dam “was die grootste goudmyn wat die korrupte generaals (in Guatamala) ooit gehad het”.