n AFPLATTING in die koers waarteen huispryse styg, word vanjaar verwag wat ’n moontlik ’n ligte blaaskans aan voornemende huiskopers kan bied.
Na verwagting sal huispryse in 2012 met ongeveer 13 persent teenoor verlede jaar se pryse styg. In 2011 het die pryse van eiendom met ongeveer 14,5 persent vanaf die vorige jaar toegeneem.
Volgens mnr. Namene Kalili, bestuurder: navorsing en mededingerintelligensie by FNB Namibia, stroom gemiddeld 250 huishoudings van ander streke na Windhoek, terwyl ongeveer 10 huise per maand in die stad gebou word.
“Dit is duidelik dat die vraag na huise hoog is en die aanbod laag is en dit lei onder meer tot die hoë huispryse,” het hy gesê.
Die hoë huispryse wat in veral Windhoek ervaar word, kan toegeskryf word aan ’n tekort aan behuising in die stad.
Bydraend hiertoe is baie min huise in die klas van N$800 000 en minder beskikbaar en baie mense kan nie die duur huise bekostig nie, het hy gesê.
Hy sê die afplatting in huispryse kan onder meer toegeskryf word aan die verskillende behuisingsontwikkelings wat vanjaar gaan plaasvind. As voorbeelde het hy die ontwikkelings by Elisenheim en Omeya genoem, waar ’n groot aantal huise in die loop van 2012 opgerig gaan word.
Die munisipaliteit van Windhoek sal heel moontlik nog grond in die hoër inkomste woonbuurte beskikbaar stel, as na die sukses van die mees onlangse erfveiling deur die munisipaliteit gekyk word. Dit terwyl die Regering se Geteikende Ingrypingsprogram vir Werkskepping en Ekonomiese Groei (TIPEEG) die middel tot lae inkomste woonbuurte se grondbehoeftes sal akkommodeer.
’n Ander probleem wat die munisipaliteit van Windhoek sal moet oorkom, is die rioolsuiweringstelsel wat ontwerp is om ongeveer 200 000 inwoners se riool te hanteer, terwyl meer as 400 000 inwoners reeds in die stad bly.
Mnr. Kalili het gesê hoe meer erwe beskikbaar gestel word, hoe groter word die moontlikheid dat grond in die stad deur die bank goedkoper sal word.
“As gekyk word na hoeveel erwe in die nabye toekoms beskikbaar gestel kan word, lyk die syfers belowend,” het hy gesê.
Hy is van mening dat ’n afplatting in huispryse definitief sal plaasvind en dat dit volgende jaar dalk nog verder kan verminder.
Dit word verwag dat die Namibiese bousektor vanjaar met ongeveer 9 persent teenoor 8 persent in 2011 sal groei.
Die sektor het die afgelope tien jaar ’n gemiddelde groei van 13,3 persent getoon en sy deel as ’n persentasie van die bruto binnelandse produk het verdubbel van 2 persent in 2000 tot 4 persent in 2010.
Volgens die Bank van Namibië (BoN) se ekonomiese beskouing vir Namibië, kan die groei in die sektor aan groot besteding in infrastruktuurontwikkeling toegeskryf word.