23.5.2012
 Argiewe:

Vandag se Spotprent


Gene Travers

Market indicators


22 Mei 2012

30 Bruidspare gekies


Advertensie
Advertensie

Ons Argiewe

16.02.12

Graf nooit toegegooi

15.02.12

Ongeluk eis bekende in perdrykringe

13.02.12

KK oor vingers getik

14.02.12

Drie fetusse binne ’n week

16.02.12

Kuberkrakers steel miljoene

19.08.2010

Held van Hardap

© Theo Gurirab
Die driejarige Jackey Siwambo saam met sy ma, me. Cicilia Siwambo, en sersant Anthanasius Singu, die eenheidsbevelvoerder van die polisie op Hoachanas, kort nadat hulle hom gekry het en per helikopter na Hoachanas gebring het. Hy was heel toe onder die stof toe hulle hom gekry het.

Die taai klein driejarige Jacky John Siwambo, is Namibië se jongste oorlewingsheld ná hy na drie dae en twee nagte net geklee in ‘n hempie, ‘n kortbroek en ‘n onpaar tekkies na ‘n geskatte staptog van sowat 30 kilometer, gister deur soekspanne onder leiding van kommissaris Kobus Meyer in die veld naby Hoachanas opgespoor is.

Vroeër vanjaar het ‘n 13-jarige seun, Emmanuel Gariseb, tydens ‘n skooltoer in die Naukluft-berge weggeraak.

Hy is steeds vermis ná soekspanne waaronder ligte vliegtuie en ‘n helikopter ook ingespan is om na hom te soek. Die soektog is na sewe dae afgelas. Die kleuter het Maandagmiddag van sy skaapwagterpa by ‘n veepos afgedwaal en ‘n reusesoektog uit die Hardap-streek is van stapel gestuur.

Die driejarige Jacky, wat in ‘n stadium van sy oorlewingstog sy tekkies uitgetrek het om kaalvoet koers te kies, is selfs nog te klein om sy skoene self aan te trek en spoorsnyers het in ‘n stadium op die onpas spore afgekom nadat hy reeds ‘n nag alleen in die veld deurgebring het.

Hy was saam met sy pa, Paulus, by ‘n veepos op die plaas Panama van mnr. Hentie Jansen, toe hy skielik verdwyn het waar sy pa besig was om met die skaap te werk. Volgens komm. Meyer, bevelvoerder van die polisie in die Hardap-streek, is die helikopter van die polisie ingespan om met die soektog te help.

Daarbenewens het polisiebeamptes van Derm, Hoachanas en Mariental, ‘n sokkerspan van Mariental en plaaswerkers van mnr. Jansen te voet en met twee perde gehelp om na die kind te soek.

“Omstreeks 15:00 gistermiddag was die soekers warm op die spoor van die peuter wat wat toe reeds byna dertig kilometer te voet afgelê het op soek na sy ma se huis. Die helikopter is na Hoachanas ontplooi om vanuit daardie rigting na die spoorsnyers te vlieg om die seuntjie te probeer opspoor.”

Volgens komm. Meyer kon die spore wel gevolg word, maar het die seuntjie nie in een spesifieke rigting gestap nie.

“Ons het op plekke afgekom waar hy gesit en rus het. Hy het sy skoene uitgetrek en toe hy verder gestap het, het hy weer sy skoene aangetrek , maar die regterskoen was aan die linkervoet en andersom.”

Die helikopter van die polisie is toegerus met infrarooi kameras, maar die moderne tegnologie kon nie die kind in die hitte van die dag opspoor nie. Einde ten laaste is Jacky in die veld gekry waar hy binne-in ‘n holte vir die helikopter weggekruip het.

Komm. Meyer sê die gat is omtrent so groot soos ‘n skoendoos. Die soektog na die driejarige stappertjie het Maandagaand omstreek 20:00 begin toe lede van die Hoachanas polisie van sy verdwyning in kennis gestel is. Kort daarna het ’n span polisiemanne van Derm hulle by die Hoachanas-span aangesluit.

Teen 02:00 is komm. Meyer van die vermiste kind ingelig en is hy met ‘n span van agt polisiemanne na die plaas om te help soek.

Teen 09:00 Woensdag is die helikopter onder bevel van kommissaris Flip Blaauw en sy span van Windhoek laat kom om met die soektog te help.

“Die gebied waar die kind weggeraak het, is baie klipperig en die grond is hard en dit was moeilik om sy spore te volg. Die spoor is die eerste dag deur vier kampe gevolg. Hy het verskeie kere oor die jakkalsproefdraad geklim en hy was naby verskillende poste waar mense woon, maar dit lyk of hy bang was vir die mense se honde, want hy het nie nader gegaan nie.”

Komm. Meyer sê die seuntjie was in ‘n stadium op sy staptog sowat 400 meter van sy ma se huis af, maar dat hulle toe die spoor verloor het.

Mnr. Jansen het gesê hy verhuur die stuk grond waar die seuntjie vermis geraak het aan ‘n ander persoon en dat die pa van die seuntjie vir dié persoon werk.

“Hulle was saam by die pos en die man wou skape gaan aankeer wat gesuip het nie. Hy het vir die seuntjie gesê om vir hom by die krip te wag terwyl hy die diere gaan aankeer en toe hy terugkom was Jacky weg. Ek het help soek en ons het ondersteuning aan die soekspanne gegee.”

Hy sê die seuntjie was net in ‘n onderhempie en ‘n kortbroek geklee en dat dit Maandagnag taamlik koud was.

“Die een hoek van die plaas is ongeveer vier kilometer van Hoachanas af en die seuntjie se spore het verskeie kere in die rigting beweeg. Dit lyk ook of hy bang is vir die helikopter en dat hy wegkruip as dit naby hom kom,” het mnr. Jansen gesê tien minute voor die kind in die veld opgespoor is.

Volgens komm. Meyer was die jongman taamlik verwese toe die polisiebeamptes hom uiteindelik gekry het. “Die eerste ding wat hy gedoen het, was om vir water te vra. Ons het vir hom water gegee en ook van die vrugtelekkers wat in die polisie se rantsoenpakke is. Hy was baie vuil en verwese, maar hy het nie ‘n skrapie aan hom gehad nie en sy skoene was steeds verkeerdom aangetrek.”

Komm. Meyer sê die seuntjie se ma is na hom gebring en altwee is in die helikopter gelaai en na Hoachanas geneem waar Jacky in die kliniek opgeneem en vir ontwatering behandel is.

Hy het gesê die bloedjong oorlewingsheld is baie op en wakker en sou moontlik al gisteraand huis toe gestuur word.
© Theo Gurirab
3-jarige se driedag tog
 
• Die driejarige Jackey John Siwambo dwaal Maandagmiddag van sy skaapwagter stiefpa weg.

• Hy is die laatlam van ʼn gesin van vyf kinders en die enigste een wat nie ʼn tweeling is nie. Die gesin bestaan uit twee pare tweelinge van onderskeidelik 20 en agt jaar oud.

• Hy word gistermiddag om 14:30 in ʼn erdvarkgat gekry nadat 38 polisiemanne onder bevel van kommissaris Kobus Meyer van die Hardap-streek op sy spoor was en ʼn helikopter met vier bemanningslede uit Windhoek ontbied is.

• Dinsdag het hulle van sonop tot sonsonder Jackey se spoor gevolg, maar kon hom nie inhaal nie.

• Gister het die soekspan hom soos die kraai vlieg 16 kilometer van die pos gekry waar hy vermis geraak het, maar na beraming het hy met sy staptog soveel as 30 kilometer gestap.

• Van sonop gister tot hy net ná middagete gekry is, het hy reeds met sy onpaar tekkies agt kilometer afgelê.

• Die ma – wat in die helikopter was wat haar seun gekry het, se reaksie was dat sy vannag darem kon slaap nadat “ek vir twee nagte nie ʼn oog kon knip nie”.

• Die mediese personeel wat hom behandel het, het gesê behalwe vir ʼn effe vinniger polsslag makeer die driejarige avonturier niks nie.

• Hy is met aarvoeding behandel en die verwagting is dat hy vandag by sy huis sal wees. Hy het Namibiërs se verbeelding aangegryp.