4.03.2010 Hardap se sluise oop solank die Vis loop
 Die Hardapdam se sluise was gister teen 16:00 steeds oop ondanks verwagtinge dat dit gisteroggend gesluit sou word. Dr. Alfie Grobler het die foto vanaf die brug oor die Visrivier geneem.
DIE Hardapdam se sluise was gister teen 16:00 steeds oop ondanks verwagtinge dat dit gisteroggend gesluit sou word. Die sluise sal eers toegemaak word sodra die Visrivier se invloei in die dam ophou.
Goeie neerslae word intussen vir die volgende week vir die noorde van die land voorspel. Meer as 41,346 miljoen kubieke meter water is reeds sedert die opening van die Hardapdam se sluise Dinsdagoggend sesuur uit die dam gelaat.
Nadat uitlatings Dinsdag stelselmatig van 500 kubieke meter per sekonde afgebring is na 400 m3 per sekonde, is dit gister verlaag na 100 m3 per sekonde. Die invloei het teen gistermiddag ook op 100 m3 water per sekonde gestaan – ’n afname van Dinsdag se 800 m3 per sekonde.
Die dam se inhoudsvlak het gister op 70 persent gestaan, het reeds sedert die begin van die reënseisoen 137,446 miljoen m3 water ontvang, met ’n uitlating van 68,850 miljoen m3 water in dieselfde tydperk.
Die invloei sedert die sluise Dinsdagoggend oopgemaak is, het gistermiddag 50,889 miljoen m3 bereik terwyl 41,346 miljoen m3 water in dieselfde tydperk uitgelaat is.
Intussen het die Zambezirivier se vlak by Katima Mulilo gisteroggend (5,3 meter) ’n 13 cm styging sedert die vorige dag getoon.
In die Cuvelai-gebied het Oshakati heelwat reën ontvang met 33,4 mm wat gisteroggend aangeteken is. Op Outapi is ook gisteroggend ’n stewige 33,2 mm gemeet.
Verder voorspel die weerkantoor goeie reën oor die noorde en sentrale noorde van die land vir die volgende sewe dae. Hierteenoor word geen verdere reën in die suidelike helfte van Namibië verwag nie.
Francios Olivier
|