
Mnr. Vinson Hailulu
DIE Kabinet se heraanstelling van mnr. Vinson Hailulu as die hoof uitvoerende beampte van die Nasionale Behuisingsonderneming (NHE) het nie sonder teenkanting geskied nie.
Die besluit kom na Swapo se sekretaris van inligting en publisiteit, Min. Jerry Ekandjo, vroeër vanjaar sy rug op die regerende party se grootste bondgenoot, die Nasionale Unie vir Namibiese Werkers (NUNW) gekeer het en met goedkeuring van die Kabinet mnr. Hailulu se dienstermyn vanaf 1 September met vyf jaar verleng het.
Mnr. Hailulu se dienstermyn het aan die einde van Augustus ten einde geloop. Ingevolge ‘n verklaring van die Kabinet het die hoof uitvoerende beampte van die NHE in sy vorige termyn goed daarin geslaag om behuising in die algemeen te vermeerder.
Hy kon ook daarin slaag om landwyd genoeg grond vir behuising te bekom, om kapitale bronne te mobiliseer, om die Ministerie van Streeks- en Plaaslike Owerheid, Behuising en Landelike Ontwikkeling te ondersteun met die samestelling van die witskrif oor behuising, om vraagstukke oor inligtingtegnologie by die NHE op te los, om nouer bande met die Regering, streeks- en plaaslike owerhede en die finansiële sektor te smee en om oplossings vir operasionele kapasiteitsbeperkinge by die NHE te vind.
Die nuutverkose sekretaris-generaal van die NUNW, mnr. Evilastus Kaaronda, was in Augustus vanjaar aan die spits met pleidooie dat mnr. Hailulu nie in belang van NHE-werkers optree nie en dat van hom ontslae geraak moet word.
Voorts het die NUNW klagte van beweerde korrupsie by die Teenkorrupsie Kommissie ingedien wat tot ’n hangende hofsaak teen die behuisingsonderneming se hoof gelei het.
In November 2008 het die Teenkorrupsie Kommissie (ACC) mnr. Hailulu in hegtenis geneem op feitlik dieselfde klag wat die Nasionale Unie vir Namibiese Werkers (NUNW) by die ACC ingedien het, maar drie maande later het die Hoërhof ’n tussentydse bevel uitgereik om die inhegtenisneming te hersien.
’n Maand later het die ACC die klag teen mnr. Hailulu laat vaar. Mnr. Hailulu het daarna die hof genader om sy regte te beskerm aangesien sy hersieningsaansoek nog hangende is en die tussentydse bevel nog van krag is. Hy was geskok om op 31 Januarie vanjaar in ’n weekblad te lees dat hy weer deur die kantoor van die Aanklaer-generaal aangekla gaan word.
Op 15 Februarie het hy ’n lasbrief ontvang wat hom in kennis stel dat hy op 5 Maart op byna dieselfde klag in die hof moes verskyn. Dit het gelei tot ‘n dringende aansoek deur mnr. Hailulu om die Aanklaer-generaal, me. Martha Ekandjo-Imalwa, te verplig om die hof se tussentydse bevel ten gunste van hom te respekteer en na te kom.