
Dr. Jaco Wasserfall, bekende Windhoekse argitek in sy kantoor. Hy is deur die departement van argitektuur van die Universiteit van die Vrystaat (UVS) genomineer om die Sophia Gray-gedenklesing Donderdag in Bloemfontein te lewer.
’n GROOT eer het die bekende Windhoekse argitek, dr. Jaco Wasserfall, te beurt geval met ’n nominasie deur die departement van argitektuur van die Universiteit van die Vrystaat (UVS) om die Sophia Gray-gedenklesing vandeesweek in Bloemfontein aan te bied.
Die onderwerp van dr. Wasserfall se lesing is “No Graffiti, Please!”.
Vanjaar is die 22ste herdenking van die Sophia Gray-gedenklesing en tydens die geleentheid vind ’n uitstalling van dr. Wasserfall se argitektoniese ontwerpe in die Oliewenhuis-kunsmuseum plaas.

Drie geboue deur dr. Wasserfall ontwerp. Die Franco-Namibiese Kultuursentrum (FNCC) in Windhoek.
Beide die lesing en foto’s van die uitstalling sal in tydskrifte soos Architecture SA gepubliseer word en volgens dr. Wasserfall sal die lesing en uitstalling later vanjaar in Windhoek aangebied word.
Sy ontwerpe word as deel van die lesing uitgestal en die UVS neem ook die uitstalling na ander argitekskole in Suid-Afrika waar dit na afloop van die gedenklesing en uitstalling in Bloemfontein, uitgestal sal word.
Dr. Wasserfall is die eerste Namibiër wat gevra is om die Sophia Gray-gedenklesing te lewer. Dit is vroeër deur bekende en gerespekteerde persoonlikhede in die argitekskorps, soos onder andere dr. Gawie Fagan, mnr. Glen Gallagher, mnr. Hannes Meiring, prof. Pancho Guedes, dr. Revel Fox, prof. Adele Naude Santos en dr. Hentie Louw, gelewer.
Die lesing maak deel uit van ’n aantal openbare lesings wat deur UVS se senaat erken word en die gehoor sluit lede van die argitekskorps, akademici, studente en die publiek in.

Die binnekant van Ernst & Young se hoofkantoor in Windhoek.
Die Sophia Gray-gedenklesing en uitstalling is een van die groot geleenthede op die Suid-Afrikaanse argitekskalender en ’n uitnodiging deur die UVS vir ’n persoon om die gedenklesing te lewer, is die universiteit se manier om ’n genooide persoon of groep te vereer deur ’n bydrae tot die plaaslike, nasionale en internasionale argiteksdebat te lewer.
Een van die hoofoorwegings vir ’n genomineerde persoon, is dat die betrokkene ’n noemenswaardige en volgehoue bydrae tot argitektuur en die argitektuursdebat in Suider-Afrika moes gelewer het en moet lewer.
Dr. Jaco Wasserfall is ’n vyfde geslag Namibiër en is op Otjiwarongo gebore, waarna hy die grootste deel van sy kinderlewe in Windhoek woonagtig was. Hy is die seun van die bekende Namibiese kunstenares, Hilda Wasserfall.
Sy vader, Hugo, was ’n onderwyser van beroep.

Die kantore vir Bührmann & Partners Consulting Engineers in Windhoek.
Hy het argitektuur aan die Universiteit van Pretoria gestudeer en in 1989 het hy ’n doktorsgraad in argitektuur van die Martin Centre for Architectural and Urban Studies by die Universiteit van Cambridge, in Brittanje verwerf.
Op akademiese gebied tree dr. Wasserfall as eksterne eksaminator by verskeie argitekskole in Suid-Afrika op. Hy is ook betrokke by die akkreditering van argitektuele kursusse vir die Suid-Afrikaanse Raad van die Argiteksberoep (SACAP) en Statebondsvereniging vir Argitekte.
Dr. Wasserfall het ’n instrumentele rol gespeel in die onlangse stigting van ’n argitekskool by die Politegnikum van Namibië.
Oorsprong van die Sophia Graygedenklesing en uitstalling
Die Sophia Gray-gedenklesing word jaarliks gehou ter nagedagtenis aan die eerste vroulike argitek in Suid-Afrika, wat oorspronklik in Bloemfontein gepraktiseer het. Sy was die vrou van ’n Anglikaanse biskop.
Sophia Gray was verantwoordelik vir die ontwerp van die aanvanklike kapel wat later ontwikkel het tot die Anglikaanse St. Andrew-katedraal en die St. Michaelkapel in die stad. Sy het ongeveer 58 kerke in Suid-Afrika ontwerp.