
Mnr. Reon van Wyk
’n BEKENDE op Keetmanshoop, mnr. Reon van Wyk, se toere wat hy vir volwassenes tydens skoolvakansies na Suid-Afrika aanbied, het so gewild geraak dat hy aanstaande jaar twee toere bykomend reël.
“Opgewondenheid heers gewoonlik elke jaar gedurende die April/Mei-skoolvakansie wanneer ’n groepie volwassenes op ‘n toer vanaf Windhoek na Suid-Afrika vertrek. Volwassenes wil net soms wegkom van die daaglikse roetine, werkdruk en die spanning wat daarmee gepaardgaan. Ons as volwassenes bederf ons mos maar min. Dit is van die redes waarom ek die toere aanbied,” sê mnr. Van Wyk.
Sy toere word volgende jaar vyf jaar oud en volgens hom word drie toere vir 2011 beplan. Die toer gedurende die April/Mei-skoolvakansie is altyd ‘n treffer, maar iets nuuts wink vir 2011. Een daarvan is ‘n toer vir enkellopendes in die Augustus-vakansie, en die ander ‘n bootreis in Desember. Dié bootreis is vanaf Durban na Maputo en die Portugese Eilande en mnr. Van Wyk het reeds baie navrae daaroor ontvang.
“Volwassenes van 21 jaar en ouer gaan gewoonlik op die toere. Die jongste persoon wat al saam getoer het, was 21 jaar en die oudste was 72 jaar oud en die deelnemers is van oral in Namibië. Volgens die terugvoering geniet die mense dit gewoonlik baie. Van die volwassenes het nog elke jaar saam getoer en dit nog elke jaar terdeë geniet,” sê mnr. Van Wyk.
Plekke soos Oudtshoorn, George, Knysna, Mosselbaai, Kaapstad en Langebaan word gewoonlik besoek. Besienswaardighede sluit onder meer die Kango-grotte, ’n volstruisplaas, Tafelberg, Robbeneiland, Kaappunt, ’n wynplaas in die Boland en Club Mykonos in. Die prys vir die 11 dae toer sluit vervoer in ‘n luukse toerbus, twee etes (ontbyt en aandete), toegangsgeld by besienswaardighede en verblyf in.
Al waarvoor die toeriste moet betaal, is hul middagetes en drankies met etes en dan moet hulle ook vir sakgeld sorg. Persone wat meer inligting wil hê en nou al hul plekke vir die verskillende toere wil bespreek, kan hom by 063 223 977 of 081 274 0499 (ná 13:00) skakel.