24.01.2012 ‘George’ bedrywig by NaTIS
DIE dienste wat buite die NaTISkantore in Windhoek te koop aangebied word, eindig nie net by bestuurderslisensies nie, maar strek verder soos ’n Suid-Afrikaanse burger onlangs uitgevind het.
Volgens die Suid-Afrikaner wat reeds amper drie jaar in die land werk, het hy ’n motor na die NaTISkantoor in die Noordelike Nywerheidsgebied geneem om dit in sy naam te laat registreer nadat hy dit gekoop het.
In die straat voor die instansie by die inrydienspunt is hy deur ’n man met ’n identiteitskaart om sy nek genader wat hom as ’n werknemer van NaTIS geïdentifiseer het.
Die man het hom as ene George voorgestel, dieselfde naam as dié van die man wat hom in Desember as ’n NaTIS-werknemer voorgedoen het en op dieselfde perseel ’n bestuurderslisensie aan ’n verslaggewer van Republikein wou verkoop.
George het toevallig aansoekvorms vir die verandering van eienaarskap by hom gehad, maar omdat die man ’n Suid-Afrikaanse burger is, moet hy ’n ander stel vorms ook invul, het die vriendelike “beampte” hom ingelig.
’n Vriend van George met die naam van Martin werk glo binne by die NaTIS-kantore en hy sal gou die ander vorms bring.
George het gevra of hy in die voertuig kan inklim en die eerste vorm word ingevul terwyl vir Martin gewag word om die ander vorms te bring.
Luidens George sal die aansoek N$550 kos wat dadelik betaal moet word.
Verder het Martin op die rekenaarstelsel gesien dat die motor sedert 2003 nie geregistreer is nie. Daarvoor moet die man N$2 250 as boete vir elke jaar wat die motor nie geregistreer is nie, opdok. Die word ook op die plek betaal.
George het fotostate van al die nodige dokumente soos die bestuurderslisensie en padwaardigheidsertifikaat gemaak terwyl die Suid-Afrikaner in die motor gewag het. George het die oorspronklike dokumente teruggebring, maar die kantore weer binnegegaan om die aansoek af te handel.
Toe George na 20 minute nog nie ’n verskyning gemaak het nie, het die man besluit om self ondersoek by die kliëntesorg-toonbank in te stel, waar hy ingelig was dat geen George of Martin daar werksaam is nie.
Op pad uit die gebou het hy egter ’n oproep van Martin ontvang om te sê hy is nog binne besig om die papierwerk uit te klaar.
Omstreeks 12:00 en 16:00 het hy nog oproepe van Martin ontvang wat vra dat hulle mekaar in die stad moet ontmoet en ook dat die voertuigeienaar ’n bykomende N$480 aan hom skuld.
Martin het die geld blykbaar by ene Maria geleen om nuwe registrasiemerke te laat druk. Die man het aan Martin gesê dat dit nie vir hom moontlik is om op die oomblik die werk te verlaat nie en of Martin nie teen 17:00 na sy kantoor kan kom nie.
Die Suid-Afrikaner het daarna nie weer van Martin of George gehoor het nie.
Die proses om die verandering van eienaarskap af te handel, het die man uiteindelik by NaTIS net N$440 gekos. Geen jaarlikse boetes omdat die voertuig sedert 2003 nie geregistreer is nie, is van hom gehef nie.
|