26.08.2010 Gam se pad oopgestel
 Die naamborde op die nuwe kruispad tussen Gam, Epukiro, Eiseb en Otjinene. Die padprojek is die afgelope naweek amptelik in gebruik gestel nadat die Regering byna N$100 miljoen bestee het om die gemeenskappe van die afgeleë dorpies op die oosgrens van die land met ander sentra te verbind.
DIE verbinding van verskillende gemeenskappe deur middel van paaie word beskou as die eerste stap in die rigting van ekonomiese ontwikkeling en die vermindering van armoede.
President Hifikepunye Pohamba het die afgelope naweek twee sulke padontwikkelingsprojekte amptelik in gebruik gestel en gesê die skepping van goeie infrastruktuur is deel van die nasionale strategie om langtermyn sosioëkonomiese ontwikkeling te bevorder. Vrydag het die President die padprojek wat Gam, Epukiro en Eiseb op die land se oosgrens met mekaar verbind, amptelik in gebruik geneem.
“Dit is met groot trots dat die Regering die projek amptelik aan die mense van die Omaheke-streek oorhandig. Die gemeenskappe sal voortaan veiliger, vinniger en makliker na en van die groter sentra in die land kan reis.”
Mnr. Pohamba sê die pad plaas mense nou in verbinding met beter mediese dienste, onderwys, opleiding en water. Hy het gesê die pad verbeter ook die geleenthede vir die streek se mense om hul produkte plaaslik en in die groter suidelike Afrikaanse streek te bemark.
Hoewel die gemeenskappe van Gam, Epukiro en Eiseb voorheen met ’n pad verbind is, was die pad nie van baie goeie gehalte nie en was die gebruik daarvan baie tydrowend en gevaarlik. Die koste van konstruksie van die padprojek in die Omaheke-streek het N$97,4 miljoen beloop en is deur Paaiekontrakteursmaatskappy, Nexus Civils en Brandberg Construction gedoen. Die voorwaardes verbonde aan die kontrakte was egter dat plaaslike gemeenskappe ook geldelik by die konstruksieprojekte moes baat.
Tydens die geleentheid op die kruispad tussen Gam, Otjinene, Eiseb en Epukiro het die goewerneur van die Omaheke-streek, me. Laura McLeod, gesê sy is oortuig dat die padprojek ’n uitstekende sake-omgewing vir die plaaslike inwoners gaan skep. Sy het gesê dit maak ook die geleenthede wat in die toerismebedryf opgesluit lê, vir die gemeenskappe oop.
“Produsente in die streek sal nou hul vleis makliker kan bemark en dit beteken dat die streek, gemeet aan ander streke in die land, in ekonomiese belang sal groei. Terselfdertyd sal die pad ook die bekamping van MIV/vigs bevorder omdat mense nou oor beter toegang tot inligting en mediese dienste beskik.”
Die goewerneur het die inwoners van omliggende gemeenskappe gewaarsku om nie die pad te beskadig nie en ook daarop gewys dat die pad dit vir ander euwels maklik maak om die eens relatief afgesonderde gemeenskappe te bereik.
Die President het ook die naweek die eerste fase van die verbetering van die pad tussen Rundu en Elundu amptelik in gebruik gestel. Mnr. Pohamba het die verskillende gemeenskappe wat by die nuwe paaie gaan baat, versoek om versigtig te wees wanneer hulle dit gebruik. Die President het gesê hy wil nie hoor dat mense onverantwoordelik opgetree en die dood van ander veroorsaak het nie.
|