22.5.2012
 Argiewe:

Vandag se Spotprent


Gene Travers

Market indicators


22 Mei 2012

30 Bruidspare gekies


Advertensie
Advertensie

Ons Argiewe

16.02.12

Graf nooit toegegooi

15.02.12

Ongeluk eis bekende in perdrykringe

13.02.12

KK oor vingers getik

14.02.12

Drie fetusse binne ’n week

16.02.12

Kuberkrakers steel miljoene

7.02.2012

DBV in die kruisvuur

DIE welwillendheid van die publiek jeens die Dierebeskermingsvereniging (DBV) in Windhoek het die afgelope tyd in die gedrang gekom, met binnegevegte, skinderstories en ’n veldtog van verdagmaking van die huidige bestuurskomitee van die instansie.

Dit kom op die vooraand van die DBV se jaarvergadering waar die bestuurskomitee van die vereniging herverkiesbaar is.

In haar reaksie het die voorsitter van die DBV se komitee, me. Lara Schaefer, gesê die klagtes wat ontvang is, moet gesien word in die lig dat die DBV met min hulpbronne sy taak moet uitvoer.

“Die DBV staar op ’n daaglikse grondslag ’n tekort aan hulpbronne in die gesig,” het sy gesê. Sy het ook nie geskroom om antwoorde te verskaf oor klagtes wat ontvang is nie.

Volgens ’n bekommerde diereliefhebber was die DBV nie by magte om in te gryp toe die vereniging in November versoek is om die geval te ondersoek waar ’n voertuig met sowat 30 hondjies oos van Windhoek van die pad getrek is nie.

Die rede wat glo aangevoer is, was dat die DBV se voertuig onklaar was en dat die vereniging nie genoeg geld gehad het om herstelwerk aan die voertuig te laat doen nie.

Schaefer het by navraag van Republikein geantwoord dat min inligting oor die geval aan die DBV verskaf is, maar dat die DBV-bestuurder, me. Hilary du Plessis, wel die Stadspolisie van die voorval in kennis gestel het. “Die polisie kon nie help nie en die lughawe is geskakel, ook sonder enige sukses,” het Schaefer gesê.

Sy het gesê die Stadspolisie is vir ’n tweede keer geskakel en het toe ingestem om ondersoek in te stel, maar in daardie stadium was die voertuig reeds deur die padblokkade en buite hul jurisdiksie.

Dit het later geblyk dat die voertuig aan ’n gelisensieerde uitvoerder van honde behoort.

“Die DBV het geen gesag om diere van mense weg te neem nie. Boonop het die voorval oor ’n naweek plaasgevind met min mense aan diens. Die DBV-drywer was nie aan diens nie en die bestuurder kon nie die DBV onbeman laat nie,” sê sy.

Volgens inligting aan Republikein verskaf, is ’n hond in Oktober na die DBV gebring wat deur ’n komiteelid op ’n plaas gevind is.

“Hoewel die hond baie maer was en deur sy vorige eienaars gekastreer is met ’n kastreerring wat vir skape gebruik word, was hy vol lewe,” het die komiteelid gesê.

Die hond is deur ’n veearts ondersoek en sou ’n nuwe huis kry sodra sy toestand verbeter het. ’n Artikel oor die hond het in ’n plaaslike koerant verskyn en kort daarna is verneem dat die hond van kant gemaak is tien dae nadat dit by die DBV aangekom het. “Die komiteelid het ’n verduideliking gesoek, maar net verskonings gekry,” het die klaer gesê.

Volgens Schaefer het die komiteelid nooit aangedui dat sy die hond wou terughê of van sy vordering in kennis gestel moes word nie.

“Sy het vir die eerste keer weer kontak gemaak toe die hond tien dae later van kant gemaak is. Nie net was die hond siek as gevolg van die kastrering nie, maar dit het ook bosluiskoors gehad. Nadat ons met ’n veearts gekonsulteer het, het ons ’n professionele besluit geneem om hom van kant te laat maak,” het Schaefer gesê.

In ’n ander voorval waaroor klagtes ontvang is, het ’n nuwe honde-eienaar aan die einde van Desember ’n hond by die DBV gekry en twee weke daarna besef die hond is tussen drie en vier weke dragtig.

“Die normale praktyk by die DBV is dat geen dier die perseel verlaat sonder om gesteriliseer of ingeënt te word nie,” het die klaer gesê.

Hierop het Schaefer geantwoord dat die vrou die hond voor Kersfees wou hê en saam met haar op vakansie wou neem, maar die veearts kon eers ná die feestyd ’n sterilisering doen. “Sy het gesoebat en gesmeek en belowe om die hond terug te bring sodat die sterilisering gedoen kon word,” het Schaefer geantwoord.

“Die DBV se bestuurders kan volgens eie oordeel sulke aansoeke toestaan, wat in hierdie geval gebeur het, maar die vrou het die hond nooit teruggebring nie. Sy het wel na ’n private veearts gegaan wat bevind het dat die hond dragtig is.”

Volgens Schaefer het die bestuurder in goedertrou opgetree.
“Kennis moet geneem word dat die nuwe eienaar nooit ’n klag by ons ingedien het nie,” het sy gesê.