
Grootskaalse ontbossing as deel van ’n poging om gebiede veiliger te maak en geen skuiling vir booswigte te gee nie, het gister in Windhoek begin.
GROOTSKAALSE ontbossing as deel van ’n poging om gebiede veiliger te maak en geen skuiling vir booswigte te gee nie, het gister in Windhoek begin.
Ná vele klagtes en protesoptredes was die munisipaliteit en stadspolisie genoodsaak om die gebied skoon te maak. ’n Week het al verloop sedert die grumoord op Magdalena Stoffels, ’n skooldogter van Hoërskool Dawid Bezuidenhout, wie se lyk in die Gammams-rivier gevind is. Dit is die rivierloop waar die ontbossing plaas gevind het.
Lede van die stadspolisie het self gereedskap opgetel en nege uur gisteroggend aan die werk gespring. Saam met die stadspolisie was daar ook werkers van die munisipaliteit, die Khomasdal Gemeenskapsforum, die Khomasdal Pastoraleforum en lede van die gemeenskap.
Die skoonmaaksessie het behels dat gras gesny word en dat die bome se takke afgekap word. Die munisipaliteit het privaat kontrakteurs gekry om die groter bome te verwyder.
Die hoof van die Windhoek stadspolisie, mnr. Abraham Kanime het gesê dat die stadspolisie ander gebiede van Windhoek soos Suiderhof, Klein Windhoek, Rocky Crest en Otjomuise ook begin ontbos het. Mnr. Kanime het gesê dat dit deel van die stadspolisie se Misdaadvoorkoming deur Omgewingsontwerp-veldtog is om die gebiede veiliger te maak.
Mnr. Clive Willemse, voorsitter van die Khomasdal Gemeenskapforum het gesê dat hulle dankbaar teenoor die stadspolisie is wat die gebied begin ontbos het. Hy het gesê die volgende stap is om met die skoolhoofde te vergader sodat ander beboste en onveilige gebiede geïdentifiseer kan word.
Dit sal dan aan die polisie deurgegee word om ook die gebiede te ontbos en te beveilig.