22.5.2012
 Argiewe:

Vandag se Spotprent


Gene Travers

Market indicators


22 Mei 2012

30 Bruidspare gekies


Advertensie
Advertensie

Ons Argiewe

16.02.12

Graf nooit toegegooi

15.02.12

Ongeluk eis bekende in perdrykringe

13.02.12

KK oor vingers getik

14.02.12

Drie fetusse binne ’n week

16.02.12

Kuberkrakers steel miljoene

3.09.2010

Boer en myn in stryd

© Dani Booysen
Die plek waar Purity Manganese die grensdrade in Junie sonder mnr. Metzger se toestemming geknip het om in nog ’n kamp te begin myn.

MYNMAATSKAPPYE se verantwoordelikheid teenoor die omgewing lê aan die hart van ’n uitgerekte stryd tussen ’n afgetrede boer van die Hochfeld-omgewing en ’n buitelandse belegger vir wie hy Woensdag so amper sy plaashekke gesluit het.

Met die bestuur van Purity Manganese, het mnr. Harald Metzger gister tydens ’n besoek aan die betwiste aarde op Otjosondu verseker, het hy beslis nog nie die laaste appeltjie geskil nie.
© Dani Booysen
Mnr. Harald Metzger op sy plaas Otjosondu waar vir mangaan gemyn word.
Volgens mnr. Metzger minag Purity al vir jare sy kontraktuele verpligting om diep dongas waaruit mangaan reeds verwyder is en dodelik gevaarlike toetsputte toe te gooi. Die rehabiliteringswerk moet ingevolge ’n kontrak uit 2001 dadelik geskied sodra ontginningswerk afgehandel is.

“Hierdie moedswilligheid moet gestop word,” voer mnr. Metzger, wat in 1997 die status van Meesterbewaringsboer gekry het, emosioneel aan oor ’n groen kwessie wat met ’n uraanontploffing aan die Namibiese kus ook elders groot sorg by bewaringsgesindes baar.

Sowat 70 hektaar in drie verskillende kampe op Otjosondu is volgens mnr. Metzger tans heeltemal onbenutbaar vir beesboerdery, terwyl die kontrak voorskryf dat net in een kamp en volgens die boer verkieslik net op een hektaar op ’n slag gemyn mag word.

In Junie het Purity volgens mnr. Metzger sonder toestemming grensdrade geknip om in nog ’n kamp te begin myn. Hulle het glo planne om binnekort ’n vierde kamp te betree.
© Dani Booysen
Mynmasjienerie besig om grond om te dolwe op soek na mangaan.

“Hoe sal gras ooit weer hier groei?” wil hy weet. “Ons het die weiding nodig!
“Wat onder die grond is, is hulle s’n,” het mnr. Metzger tydens Republikein se besoek aan die delwerye verduidelik. “Die bokant is myne.”
© Dani Booysen
Deel van ’n gemynde gebied wat volgens Purity Mangenese korrek gerehabiliteer is.
Van die grond waarop al in 2008 klaar gemyn is, is steeds nutteloos.

’n Bul wat een slag in ’n delfput geval het, was na ’n reddingspoging heel berserk en moes geskiet word.

Behalwe dat sandhope so naby kampdrade gestoot word dat brandstroke nie onderhou kan word nie en ’n ompad na een kamp gery moet word, kom Purity volgens mnr. Metzger ook nie hul verpligtinge oor die instandhouding van plaaspaaie na nie.

“Die dag as hulle waai, gaan daar nie een gat toegemaak wees nie,” het hy sy vrese onder woorde gebring.

Volgens mnr. Metzger skuld die myn hom tans N$50 000.

Aanmanings en prokureursbriewe help niks, sê hy. “Hulle skrik vir niks nie. Dit gaan net oor geld.
© Dani Booysen
Soos die herstelwerk moet lyk.
“Ons is moedeloos. Daar gebeur net niks nie.”

Die Ministerie van Myne en Energie se raad was dat die partye self hul probleme moet uitstryk. Die Ministerie het ’n arbitrasiekomitee, maar die liggaam het volgens mnr. Metzger geen noemenswaardige magte om sy besluite af te dwing nie.

Vandeesweek het Purity se prokureurs inderhaas laat weet dat hulle nog nie ’n afskrif van ’n finale aanmaning ontvang het om hul kontraktuele vergrype binne 30 dae te herstel nie.

Mnr. Boris Bannai, direkteur van Purity, het per selfoon uit China ronduit al mnr. Metzger se klagtes verwerp.

“Dit is net mooi andersom,” voer hy aan. Volgens mnr. Bannai is dit mnr. Metzger wat die kontrak verkeerd lees, onwettig inmeng, nuwe en onredelike verpligtinge op die mynmaatskappy probeer afdwing en meer geld uit Purity probeer wurg as waarop hy geregtig is.
© Dani Booysen
’n Toetsput soos die een waarin ’n bul al tevore geval het. Die dier moes geskiet word aangesien hy berserk was na ’n reddingspoging.
“Ons kan myn waar ons wil,” het hy benadruk. “Ons gaan myn en ons gaan nie stop nie.”

Rehabilitering hoef volgens mnr. Bannai eers te begin wanneer elke stukkie mangaanerts verwyder is.

Volgens hom tree Purity eties heeltemal korrek op en doen die maatskappy selfs meer as wat die kontrak vereis.

“Ons gebruik nie eens 100 hektaar nie,” het hy gesê. “Hulle het meer as 15 000 hektaar!

“Ons aanvaar ons verantwoordelikhede. Hy moet syne aanvaar,” was die basta-boodskap uit China.

Volgens mnr. Bannai kry mnr. Metzger klokslag elke maand N$20 000. Vir 100 hektaar is die huurprys volgens die kontrak egter N$100 000 per maand.
Mnr. Bannai het onderneem om sodra hy uit die buiteland terug is ’n hernude gesprek met mnr. Metzger-hulle aan te knoop om die vrede te herstel.

Woensdag is beloof dat rehabiliteringswerk die volgende dag sou begin, maar gister was daar nog geen teken van enige herstelwerk nie. “Hierdie is vir my bloedmangaan,” het mnr. Streicher Coetzee, mnr. Metzger se skoonseun wat tans die grond huur en op die buurplaas Omantumba woon, bitter opgemerk.
© Dani Booysen
Die grondhope langs ’n grensdraad maak dit behalwe dat dit toegang per voertuig versper onmoontlik om brandstroke in stand te hou.