6.02.2012 Blitsvloede nie uitgesluit
 Nasa se reënkaart vir gister.
HARDE reën kan later die week oor die sentrale noorde val en afhangende van die intensiteit van neerslae is blitsvloede nie uitgesluit nie.
Hoewel die afdeling meteorologiese dienste se reënmeters nie die laaste drie dae buitengewone hoë lesings opgelewer het nie, toon Nasa se skattings vir gister volgens staatshidroloog Guido van Langenhove moontlike buie van tot 50 mm suidwes van Rundu asook oor die Mariental-omgewing. Goeie reën is ook in die Zambezirivier se opvangsgebiede in Zambië en Angola verwag.
Vloei in die Visrivier is volgens Van Langenhove moontlik. Hy reken verder dat die Zambezi binne die volgende twee weke vlakke van 3,5 tot 4 meter by Katima Mulilo kan bereik, wat die begin van ’n seisoenale vloed sal beteken wat dele van die Oos-Caprivi moeilik begaanbaar sal maak.
Die Zambezirivier het gister 2,78 m diep verby Katima Mulilo gevloei.
“Vir môre lyk die kanse op reën nog beter,” sê me. Albertina Anderson van die weerkantoor. “Daar is reën vir die hele week.”
Donderbuie kan vandag opnuut in die Noorde, oor Sentraal-Namibië en die hele Suide val. Feitlik net in die verre Noordweste en aan die sentrale en noordelike kus word geen neerslae verwag nie. “Die toestande sal vir ’n paar dae dieselfde bly,” verduidelik Anderson die gevolge van ’n statiese laagdrukstelsel oor die land en ’n hoogdrukstelsel wat vogtige lug uit Oos-Afrika na Namibië laat inbeweeg.
Baie swaar buie kan teen Woensdag of Donderdag in die sentrale noorde val. Die stelsel sal noordweswaarts beweeg en teen Vrydag kan reën oor die grootste deel van die land begin opklaar.
Ligte reën is Vrydag- en Saterdagoggend in die Caprivi- en Kavangostreek gemeet. Die buie het egter toegeneem en gisteroggend is 12,4 mm op Rundu en 23,6 mm by die dorp se lughawe gemeet.
Op Grootfontein het tot gisteroggend 29,2 mm geval.
Ander lesings vir die naweek is soos volg:
Vrydagoggend – Windhoek 8,8 mm; Gobabis 12,6 mm; Maltahöhe 7,2 mm.
Sondagoggend – Windhoek 3,8 mm; Internasionale Lughawe Hosea Kutako 8,6 mm; Gobabis 1,8 mm; Mariental 1,4 mm.
|