BLAAS in die pypie bepaal nou of jy by jou werk kan bly of gly.
Al hoe meer maatskappye in Namibië toets deesdae voor en ná werk hul werknemers se alkoholvlakke. Die meeste myne in die land het reeds die maatreël vir werkveiligheidsredes ingestel met werknemers wat in die pypie moet blaas. Op Rosh Pinah word byvoorbeeld gegons dat mynwerkers nou minder in die bottel kyk weens die maatreël, of dat hulle saans vroeër die glasie eenkant toe skuif. Deurnagbrassery word nie meer geduld nie.
By sommige hotelle in die land word alkoholvlakke van hotelwerkers ook nou getoets. ’n Leser van Republikein het egter een van die hotelle se gesondheidstandaarde bevraagteken en die volgende SMS gestuur wat vandeesweek gepubliseer is:
“Wonder hoe ’n sekere hotel in Windhoek dit regkry om sy personeel te laat blaas voordat hulle begin werk en as hulle af diens gaan. Staan glo in rye om te kyk of hulle nie gedrink is nie.
Het nie ’n probleem met die blasery nie maar wat van higiëne? Almal blaas deur dieselfde pypie of masjien.”
Republikein het die leser gekontak wat die hotel as Windhoek se nuwe vyfsterhotel, die Hilton, uitgewys het. Die koerant het dus navraag gedoen.
In ’n verklaring wat me. Davina Martin uit Suid-Afrika namens die Hilton hotelgroep uitgereik het, sê sy dat alle werksaangeleenthede tussen Hilton Worldwide en sy “spanlede” privaat en vertroulik is.
“Die gesondheid, veiligheid en welstand van ons spanlede is van die grootste belang en ons wend alle pogings aan om te verseker dat alle praktyke en standaarde volgens plaaslike arbeidsregulasies is,” lui die mediaverklaring.