|
Republikein
|
|
|
27.08.2010 Baba in noue ontkoming met laaigraaf![]() Mnr. Simon Teofilus, me. Tuliameni Hashali (die babawagter) en die baba wat in die gebou was toe munisipale werkers dit begin afbreek het.
DIE agt maande oue Panduleni het Donderdag die dood net-net vrygespring terwyl sy moeder, me. Just Vakola, en twee ander gesinne dakloos gelaat is toe werkers van die Helao Nafidi-dorpsraad in die Ohangwena-streek die werkerskaserne van Tanganyika Auto Repairs op Oshikango afgebreek het voordat dit ordentlik ontruim is.
Die dorpsraad het die stuk grond waarop verskeie sinkplaat- en steenhuise, sjebeens en minstens een werkwinkel was, vir ontwikkeling geoormerk en die huidige bewoners is gevra om elders ’n heenkome te vind. Volgens die babawagter, me. Tuliameni Hashali, was sy buite die gebou terwyl die kind in die slaapkamer geslaap het toe ’n laaigraaf vergesel van ’n voertuig van die dorpsraad opgedaag het. “Hulle het my gevra hoekom ons nog nie die gebou ontruim het nie. Ek het voorgestel dat hulle eerder met die eienaar van die gebou, mnr. Simon Teofilus, praat en was nog besig om sy kontaknommer vir hulle te gee, toe die laaigraafdrywer agter die stuurwiel spring. “Ek was onder die indruk hulle ry weg, maar die volgende oomblik het die laaigraaf begin om die gebou af te breek. Ek het gehardloop om die kind uit te kry waarna ek hulle gevra om ons ’n geleentheid te gee om die kamers te ontruim. Hulle het ons 60 minute gee en toe teruggekom en die gebou gedeeltelik afgebreek,” het sy gesê. Die oorblywende huise in dieselfde erf is nie geraak nie. Mnr. Simon Teofilus, die eienaar van Tanganyika Auto Repairs, het gesê hy het reeds sy werkwinkel verskuif, maar drie van sy werkers bly nog in die ou werkerskaserne terwyl hy ’n nuwe blyplek vir hulle soek. “Ek is inderdaad die enigste wat tot dusver my plek ontruim het. Alle ander mense is nog daar, maar nou word ek juis vir onregverdige behandeling uitgesonder,” het hy gesê. Mnr. Teofilus vermoed onreëlmatighede en het belowe hy sal die verwikkelinge noukeurig volg. “Indien hulle haastig was om ’n bouprojek te implementeer, hoekom het hulle nie al die huise afgebreek nie en dadelik met die projek begin nie? Daar is meer vrae as antwoorde,” het hy gesê. Die laaigraaf het die afgelope ses dae nie na die toneel teruggekeer nie en geen ander huiseienaars in dieselfde erf is sedertdien gepla nie. Die Helao Nafidi dorpsraad se beamptes wou nie ’n woord oor die insident sê nie. Placido Hilukilwa by Helao Nafidi |
|