
Die ashope by die Van Eck-kragsentrale in Windhoek.
BYNA twee jaar nadat ’n seun by die ashope by die Van Eck-kragsentrale in ’n gat vol vuurwarm as geval en ernstige brandwonde opgedoen het, gaan die gesin nou vir NamPower siviel dagvaar.
Die ongeluk het in Oktober 2009 gebeur toe die 13-jarige Jaco Dreyer van Windhoek ná ’n gesinsuitstappie na ’n 4x4 Vasbytkompetisie op ’n Saterdagmiddag in ’n gat vol vuurwarm as neffens Van Eck geval en ernstige brandwonde aan sy voete en bene opgedoen het.
Jaco se mediese koste vir behandeling in die Windhoek Medi-Clinic het sowat N$200 000 beloop, volgens sy pa, mnr. Theuns Dreyer. Die gesin het nie in daardie stadium ’n mediesefonds gehad nie.

Jaco Dreyer (15) wat in 2009 eerstegraadse brandwonde aan sy voete en bene by die ashope neffens die Van Eck-kragsentrale opgedoen het. Hy moet vanjaar veloorplantings kry.
NamPower is vir ondersteuning genader, “maar hulle het alle aanspreeklikheid ontken en hulp geweier,” het Dreyer gesê. “NamPower het blatant gesê ons moet hof toe gaan. Ons het die afgelope twee jaar gespook om dokterskwotasies bymekaar te kry en gaan binnekort ’n prokureur sien om NamPower te dagvaar.”
Jaco is nou 15 jaar oud en ’n leerling van die Hoër Tegniese Skool in Windhoek. Weens sy ernstige beserings kan hy beswaarlik aan sport deelneem en hy moet met ’n langbroek swem omdat hy meer tot velkanker geneig is.
Voorts moet Jaco veloorplantings kry weens die eerstegraadse brandwonde wat hy opgedoen het. “Hy gaan tydens die eerste skoolvakansie sy eerste veloorplantingoperasie op sy voete kry. Die harde velle moet afgesny en nuwe vel moet oorgeplant word. Dan moet ’n maand gewag word om te sien of sy liggaam die nuwe vel verwerp of nie. As die vel verwerp word, moet hy weer geopereer word,” verduidelik sy pa.
“Dit is ’n verskriklike ding waardeur ons gegaan het. Ek wens dit vir niemand toe nie.”
Die ashope was nie tydens die ongeluk omhein nie, maar ’n heining en waarskuwingsborde is intussen opgerig.
Intussen doen LM Environmental Consulting ’n beroep op die publiek vir openbare deelname aangaande Namibia Ash Converters CC se verwydering en moontlike behandeling van as by NamPower se ashope naby die Van Eck-kragsentrale.
Namibia Ash Converters wil 500 000 ton as van die Windhoekse munisipaliteit en NamPower se ashope suidoos van die Van Eck steenkoolkragsentrale versamel.
Om waarde tot die versamelde as (los as, brikette en klinkers) te voeg, moet die as ’n proses van skeiding ondergaan deur óf ’n swaartekragproses óf sifting. Daar word verwag dat die proses van sifting by die perseel van die ashoop sal plaasvind. Alle produkte sal in sakke verpak en van die perseel vervoer word waarna die perseel uiteindelik gerehabiliteer sal word.
LM Environmental Consulting is aangestel om ’n omgewingstudie uit te voer en ’n omgewingsbestuursplan vir die voorgestelde projek op te stel.
Alle belanghebbendes word genooi om te registreer of enige kwessies of kommer te opper of voorstelle voor 30 Januarie in te dien.
Om te registreer of voorstelle in te dien, kontak me. Lima Maartens by 061 255750 of 081 245 8790 of per faks by 088 9004 of per e-pos by lima@iway.na.