Antraks- vrese ná 2 sterf

Twee mense is dood en twee steeds siek nadat hulle vermoedelik miltsiekte (antraks) op die plaas Kroonster van die bekende suiwel- en vleisprodusent, mnr. Japie Engelbrecht, opgedoen het.
Dr. John Shoopala, adjunkhoof: dieresiektebeheer in die direktoraat Veeartsenydienste, het gister bevestig dat die plaas onder kwarantyn geplaas is.
Volgens hom is die voorval einde Februarie deur die Ministerie van Gesondheid en Maatskaplike Dienste onder die direktoraat se aandag gebring.
?Ons het ?n ondersoekspan na die plaas gestuur en 269 van die 275 beeste op die plaas is vir tekens van miltsiekte ondersoek. Toetse is ook uitgevoer op vleis wat in die vrieskas was. Geen tekens van antraks is sover gevind nie.?
Volgens Shoopala is verdere toetse in ?n latere stadium uitgevoer en die uitslag daarvan is nog nie bekend nie. ?Dit is waarom die plaas steeds onder kwarantyn is,? het hy gister gesê.
Die direktoraat Veeartsenydienste het intussen Vrydag ook ?n verbod geplaas op die verkoop van suiwelprodukte wat van die plaas afkomstig is.
Die vermoede is dat die plaaswerkers met die bakterie wat miltsiekte veroorsaak, besmet is nadat hullevan die vleis geëet het van ?n koei wat in Februarie op die plaas dood is, berig Nampa.
?Die koei het op 17 Februarie gevrek en volgens die verslag wat ons ontvang het, het die werkers wat van die vleis geëet het op 28 Februarie diarree ontwikkel. Hulle is die volgende dag in die hospitaal op Gobabis opgeneem.?

Nampa het gister berig drie van die pasiënte is intussen ?aan antraks-verwante oorsake? dood, terwyl twee steeds in ?n bedenklike toestand is.

Volgens dr. Shoopala is net twee mense dood en twee steeds siek.

Mnr. Bennie Venter, Engelbrecht se prokureur, het gister gesê dit strook met die inligting wat hy ontvang het.

Venter sê ondanks briewe aan die Ministerie (van Gesondheid en Maatskaplike Dienste), kon hy nog nie daarin slaag om die verslag te kry wat daarop dui dat die plaaswerkers miltsiekte opgedoen het nie.

Hy sê ?n dringende hofaansoek wat die Ministerie gelas om die bewyse beskikbaar te stel, is een van die opsies wat hy met Engelbrecht sal bespreek.
WAT IS MILTSIEKTE?Dit is ?n akute, dodelike siekte en die voorkoms of vermoedelike voorkoms daarvan moet onmiddellik aangemeld word.

Miltsiekte word veroorsaak deur ?n bakteriese organisme, Bacillus anthracis. Wanneer diere aan die siekte vrek en veral as hulle oopgesny word, kom groot getalle van die kiem, wat in die bloed en organe aanwesig is met die lug in aanraking en produseer spore wat baie sterk weerstand kan bied. Die sogenaamde sporekan baie jare lank in die grond oorleef.

Die bloederige uitloopsels by die natuurlike openinge van die liggaam sowel as die velIe, bene en vleis vorm besmettingsbronne en speel ?n belangrike rol by die verspreiding van die siekte.

Behalwe die mens, kan gewone en bytende vlieë, aasvoëls, jakkalse en ander kleiner aasdiere as vername verspreiders van die siekte optree. Die spore, wat uiters bestand is teen ongunstige klimaatstoestande, kan ook deur reën weggespoel word en in vlak panne en damme versamel, wat dan mettertyd, veral as dit begin opdroog, gekonsentreerde bronne van besmetting word.

Diere kry gewoonlik die besmetting deur die bek in wanneer hulle besmette water drink, op besmette veld wei of aan besmette velle, bene, bloed of karkasse lek of vreet.

Mense is ook vatbaar en kan die besmetting opdoen deur wonde, of deur spore per mond in te neem of in te asem. Besmette velle kan tydens hantering dikwels as bronne van besmetting vir die mens dien.

Die oopsny van verdagte miltsiektekarkasse word ten strengste verbied.

Kategorie: