’n BEROEP is op die Ministerie van Justisie en die regbank deur die Women’s Action for Development (WAD) gedoen om die publiek beter in te lig oor wat alles in ’n saak, veral een soos die van mnr. Shadaku, oorweeg word voordat ’n uitspraak daaroor gelewer word.
Volgens die uitvoerende direkteur van WAD, me. Veronica De Klerk (foto), moet die publiek beter ingelig word oor die regstelsel en wat oorweeg word om ’n uitspraak te lewer sodat konflik tussen die publiek en uitsprake van die regbank voorkom kan word.
Me. De Klerk het gesê dat aangesien Jan Alleman nie oor die wetlike agtergrond beskik om die feite wat as getuienis aangebied word reg te vertolk nie, oorweeg die oningeligtes uitsprake wat op emosionele reaksies gebaseer is.
Die uitspraak in die Lazaruz Shaduka-saak was ’n skok vir WAD en die publiek, maar veral vroue in die algemeen. Vroue het nou ’n oorweldigende gevoel van wanhoop en hulpeloosheid oor die waarde van ’n vrou se lewe, sê me. De Klerk. Die uitspraak het veroorsaak dat WAD verskeie navrae van die publiek moes hanteer rakende hul totale verwerping van die uitspraak en WAD het ’n beroep vir kalmte gedoen.
Volgens me. De Klerk wil WAD nie tot die huidige openbare veroordeling van die uitspraak bydra, wat meestal deur gevoel aangedryf word nie. “Die uitspraak laat mnr. Shaduka ’n vry man nadat hy bloot ’n boete van N$27 000 betaal het.
“Dit blyk in die openbare oog ’n baie ligte vonnis te wees vir ’n persoon wat die dood van sy vrou veroorsaak het.”
Intussen het me. De Klerk erken dat sy nie die uitspraak onder oë gehad het nie, maar slegs bekend is met dit wat sy in die media gelees het. Die feit dat mnr. Shaduka egter gesê het dat hy tot die ekonomie van die land bydra, is glad nie van toepasssing nie, meen sy.
“Wat wel van toepassing is, is die feit dat ’n vrou haar lewe verloor het,” het me. De Klerk gesê.
Sy het voorts gesê dat die publiek breedvoeriger oor ’n saak ingelig moet word voordat ’n uitspraak gelewer word. Oor die feit dat dit ’n vroulike regter is wat die uitspraak gelewer het, het me. De Klerk gesê dat sy glo die regter het haar oordeel gevel volgens die feite wat vir haar beskikbaar was.
“Ons kan dus nie dat emosie die oorhand kry nie.”
Volgens haar is die nasie nog in rou aangesien dit maar ’n kort tydjie is nadat Magdalena Stoffels vermoor is. Intussen het me. Elaine Kaoseb, die voorsitter van die Khomas Gemeenskapstem wat ’n subafdeling van WAD is, gesê dat die N$27 000 wat mnr. Shaduka vir sy vryheid moes betaal met die blaam op nalatigheid, die 13 streekgemeenskapstem- liggame geskok het en dit teleurgesteld is oor die ligte vonnis. Dit het groot kommer in die breër publiek geskep.
“Die onmiddellike vraag wat by vroue opduik, is of die regstelsel die gemeenskap faal.”
In lig van al die openbare gevoelens en vrae wat tans in die Namibiese gemeenskap gevra word, het WAD ’n brief aan Hoofregter Peter Shivute geskryf. In die brief word ’n beroep op hom gedoen om die nasie te help om te verstaan hoekom swaar vonnisse vir byvoorbeeld die diefstal van vee opgelê word, terwyl oortreders van geweld, verkragting en moord op vroue ligter vonnisse ontvang.
Voorts word die Hoofregter ook gevra om te oorweeg om die nasie op te voed in ’n taal wat almal verstaan deur gebruik te maak van lede van die regbank om die publiek in te lig oor die belangrike beginsels wat in ag geneem word om ’n uitspraak soos die in die Shaduka-saak te lewer.
Intussen het WAD ook ’n brief aan die Minister van Justisie, me. Pendukeni Iivula-Ithana, geskryf en ’n beroep op haar gedoen om geld aan nie-regeringsorganisasies deur middel van die Kantoor van die Ombudsman vir opleidingsprogramme beskikbaar te stel.
Die doel is om meer landelike mense die geleentheid te bied om as parajuriste opgelei te word en sodoende die verspreiding van inligting aan die gemeenskap te versnel.
Dit sal ongetwyfeld ’n meer ingeligte nasie tot gevolg hê en konstante konflik tussen die publiek en uitsprake van die regbank voorkom, sê me. De Klerk.
’n Meer ingeligte nasie oor die sleutelbeginsels wat oorweeg word in sake, sal ook die geloofwaardigheid in die regstelsel verbeter en respek vir die reg bevorder, sê sy.