
Me. Laura Ellen Muglia van Nets for Life deel muskietnette wat met muskietweerder behandel is, by ’n nedersetting in ’n vloedgeteisterde gebied in Namibië langs die Zambezi-rivier uit. Dié foto is Saterdag geneem. Foto verskaf deur Helge Bendl, www.zambezi-expedition.org
IN ’n ambisieuse liefdadigheidsprojek wat aan die einde van Maart aan die boloop van die Zambezirivier afgeskop het, was Namibië verlede naweek die derde land om by die “Roll Back Malaria Zambezi Expedition” te baat. In die ekspedisie op die “rivier van die lewe” gaan deelnemers probeer om nie slegs medisyne en mediese hulp aan malarialyers te voorsien nie, maar om die hele wêreld van die uitdaging van malaria in Afrika bewus te maak.
Duisende muskietnette wat reeds met muskietweerder behandel is, word aan gemeenskappe langs die oewers van die rivier uitgedeel. Die groep het op 30 Maart uit Zambië vertrek. Mnr. Helge Bendl (29), ’n joernalis uit Duitsland, en mnr. Andy Leemann (54), rivierkenner wat al meer as 30 000 km op riviere in die wêreld gevaar het, is die leiers van die Zambezi-ekspedisie. Op hul webwerf beskryf hulle by wyse van foto’s hoe hul reis vorder.
In die eerste dae op die rivier in Angola het hulle baie probleme gehad oor hoe om die stroomversnellings en selfs ’n gevaarlike waterval te trotseer. Op 2 April moes hulle die hulp van ’n helikopter inroep om hulle by te staan om verby ’n onbegaanbare waterval te kom. Tog was die beloning om reeds duisende mense te kon bystaan, verbysterend.
By een van die mees afgesonderde tweebedklinieke het die span onmiddellik ingespring om malarialyers te help en muskietnette aan die kliniek te gee. Oral waar hulle aandoen, word bloedtoetse geneem om te bepaal of oewerbewoners met die malariaparasiet besmet is. Hulle het Vrydag en Saterdag in die Zambezi-rivier al langs die Namibiese grens gevaar waar duisende muskietnette aan gemeenskappe uitgedeel is.
Sondag het hulle Botswana by die Kazungula- grenspos binnegegaan. Vandaar is hulle weer na Zambië tot Saterdag waarna hulle beoog om Wêreldmalariadag op 25 April by Livingstone in Zambië te vier. Daarna is die groep vanaf 27 April tot 8 Mei in Zimbabwe, vanaf 9 tot 11 Mei in Zambië en daarna in Mosambiek. Die mikpunt is om die Zambezi-delta in Mosambiek op 31 Mei te bereik.