18.03.2010 ACC hoort nie in Grondwet
DIE insluiting van artikels wat handel oor die Teenkorrupsie Kommissie (ACC) in die Grondwet, het die week in die Nasionale Vergadering skerp kritiek uit Swapo-geledere gelok met heelwat lede wat daarteen gekant is dat dit in die Grondwet ingesluit word.
Die Minister van Visserye en Mariene Hulpbronne, dr. Abraham Iyambo, was die eerste om te sê “die publiek voel ongemaklik” oor die insluiting van Hoofstuk 10A, Artikel 94 A wat oor teenkorrupsie-maatreëls handel.
Dr. Iyambo sê dit sal wys wees om dit liewer net ‘n administratiewe funksie te hou wat kragtens die Wet op die Teenkorrupsie Kommissie beheer word. Die Adjunkminister van Arbeid, mnr. Peter Iilongo, het gesê motorbestuurders van ministers en adjunkministers word deur die Teenkorrupsie Kommissie geteister wanneer hulle met die ministers se ampsmotors ry om brood te gaan koop.
Die Adjunkminister van Justisie, mnr. Utoni Nujoma, het op dieselfde strydwa geklim en die lot van motorbestuurders wat “honger moes ly” omdat hulle nie winkel toe kan ry om brood te koop nie en omdat hulle nie met ampsmotors mag ry nie.
Hy sê met die instelling van die ACC het die wetgewers iets anders in gedagte gehad as wat nou plaasvind en dat versigtig gehandel moes word om nie die ACC te gebruik om ou vetes by te lê nie. Hy wou ook weet hoekom die ACC nie onder die Ministerie van Justisie sorteer nie, maar onder die Kantoor van die Eerste Minister.
Die Minister van Geslagsgelykheid en Kinderwelsyn, me. Marlene Mungunda, het vertel dat haar motorbestuurder een keer in hegtenis geneem is omdat sy hom gestuur het om vir haar ‘n jas te gaan haal toe sy koud gekry het.
Ook die Adjunkminister van Finansies, mnr. Tjikero Tweya, en die Adjunkminister van Streek- en Plaaslike Owerheid, Behuising en Landelike Ontwikkeling, mnr. Kazenambo Kazenambo, het hul stemme by dié gevoeg wat oor die invoeging van die ACC by die Grondwet gekla het.
Mnr. Kazenambo het selfs gesê dit lyk of daar sommige is wat “onaantasbaar” is en ander wat weer “aantasbaar” is.
Die Minister van Veteranesake, dr. Ngarikutuke Tjiriange, het egter ingegryp en daarop gewys dat die hoofstuk bloot ingevoeg word in die Grondwet om die ACC in staat te stel om sy werksaamhede te verrig. Hy het daarop gewys dat verwysings na beweerde teisterings deur die ACC nie van pas is in die debat nie en dat sake van hierdie aard bespreek kan word wanneer wetgewing oor die ACC aan die Huis voorgelê word.
Die Eerste Minister, mnr. Nahas Angula, het gesê die grondwetlike wysiging is noodsaaklik en hy het die Huis gevra om dit te steun. Hy het die lede ook daarop gewys dat dit nie iets is wat hy in sy persoonlike hoedanigheid aan die Nasionale Vergadering voorgelê het nie, maar dat hy dit in opdrag van die Kabinet gedoen het ná dit deur die volle kabinet aanvaar is.
|