30.07.2008

Aanval ruk Grootfontein


Medici laai me. Ria Jacobs laat gistermiddag uit ‘n ambulansvliegtuig op die lughawe Eros ná hospitaalpersoneel op Grootfontein ‘n groot deel van gister geveg het om haar toestand te stabiliseer. Me. Jacobs en haar man, Wessel, was vroeg gisteroggend die slagoffers van ‘n wreedaardige roofaanval op hul plaas Aandster naby Maroelaboom in die Noorde.
DIE wreedste martelmetodes denkbaar is in die jongste plaasaanval op bejaardes op afgeleë plase gebruik. Mnr. Wessel Jacobs (68) en sy vrou Ria (69) van die plaas Aandster naby Maroelaboom, was gisteroggend die jongste slagoffers van ‘n roofbende wat in die vroeë oggendure op hul plaas toegeslaan het.

Onderwyl medici gister op Grootfontein onverpoosd geveg het om die boervrou na die wrede aanval te stabiliseer sodat sy op ‘n ambulansvliegtuig na Windhoek geplaas kon word, het die landbougemeenskap meedoënloos na twee van die aanvallers gesoek nadat een van die bendelede reeds agter tralies beland het.

Mnr. Jacobs en sy vrou is gisteroggend tussen tweeuur en drieuur in hul plaaswoning deur die drie mans in hul slaapkamer oorval en vasgebind. Die egpaar is erg aangerand en gemartel omdat die rowers gesukkel het om een van die kluise oop te breek. Volgens mnr. Johann van Heerden is hy omstreeks 04:00 deur die egpaar se kinders geskakel om met die opsporing van die aanvallers te help.

“Ek het die polisie gaan haal en ons het die voertuig waarmee die rowers ontsnap het, naby die skougronde op die dorp voorgekeer. Twee van die mans het uit die voertuig gespring en die bosse in gehardloop. Die polisie het minstens twee skote op die rowers geskiet, maar hulle kon daarin slaag om weg te kom.

Die bestuurder van die voertuig is in hegtenis geneem en hy kon intussen een sy makkers identifiseer.” Volgens mnr. Van Heerden het die rowers die ou mense in hul slaapkamer oorval en vasgebind. Hulle het geld geëis en die egpaar is gedwing om die kluise in die huis oop te maak. “Oom Wessel kon nie die kombinasie van een van die kluise onthou nie en ook nie sonder sy bril sien wat die nommers op die slot was nie.

Die rowers het ‘n plastieksak aan die brand gesteek en brandende plastiek op sy voete laat drup.” “Toe hulle sien dat hulle nie die kombinasie met die martelmetode uit oom Wessel gaan kry nie, het hulle die kluis met koevoete oopgebreek.” Die rowers het uiteindelik daarin geslaag om die bejaarde egpaar se juweliersware, kontant en vuurwapens, wat in die twee kluise toegesluit was, te steel.

Volgens mnr. Van Heerden het die rowers tannie Ria vasgebind, maar sy kon daarin slaag om haarself los te wikkel. Sy het verskeie kere daarin geslaag om los te kom en is in die proses taamlik erg geslaan. Sy is eenkeer so hard gestamp dat sy oor die toilet in die badkamer geval het. “Van tannie Ria se ribbes is gebreek en haar beserings is van so ‘n aard dat sy inwendige bloeding opgedoen het. ‘n Ambulansvliegtuig is laat kom om haar na Windhoek te neem.

Die vliegtuig moes egter wag vir medici om haar in so ‘n mate te stabilseer sodat sy in die vliegtuig gelaai kon word.” Die inhegtenisneming van die bestuurder van die voertuig het meer lig op die werkwyse van die rowers gewerp. Die twee wat daarin kon slaag om te ontsnap, is volgens die verdagte nou in aanhouding, van Windhoek afkomstig.

Een van hulle werk in die jagbedryf en hy gebruik sy werk om sy slagoffers uit te kies. Op ‘n tyd wat vir hom geleë is, keer hy saam met nog ‘n man terug na die plaas van sy keuse en maak hy gebruik van ‘n plaaslike inwoner om hulle na die plaas te neem waar die eienaar dan op wreedaardige wyse beroof word.

In die geval van mnr. en me. Jacobs was die rowers se bestuurder ‘n man van Windhoek. Mnr. Van Heerden sê die nuus van die wrede aanval het die inwoners van Grootfontein geskok gelaat omdat mnr. en me. Jacobs albei byna sewentig jaar oud is en die egpaar heelwat vir die gemeenskap gedoen het.