13.01.2009 68 sterf reeds op paaie
’n TRAGIESE fratsongeluk buite Okahandja het Sondag die lewe van ’n passasier geëis en in die proses vanjaar se dodetol op landspaaie in die vakansieseisoen na 68 opgestoot. Nog twee mans is intussen Saterdagaand in ’n kop-teenkop- botsing tussen ’n sedan en ’n taxibus tussen Oshakati en Oshikuku dood.
Sewe mense in die bussie is net lig beseer, terwyl mnre. Fillemon Niikoti (20) en Henock Kuutondokwa (24) met hul lewensgeboet het. Hierdie drie nuwe noodlottighede het padsterftes gevaarlik naby aan die 70-merk laat klim, teenoor verlede jaar se 62 in die hele skoolvakansie.
Volgens adj.komm. Ralph Ludwig van Nampol was drie motors en ’n vragmotor eergister naby mekaar tussen Okahandja en Otjiwarongo onderweg toe ’n voertuig met ’n pap band sowat 25 kilometer buite die land se Tuindorp van die pad getrek het.
’n Weldoener (B) wat van agter aangekom het, het rem getrap en wou voor die stilstaande motor (A) intrek, maar van agter het ’n derde voertuig (C) steeds teen ’n veel hoër spoed aangekom – en van voor ’n vragmotor.
Motor B se bestuurder het besluit om eerder so gou moontlik uit die pad te kom, waarna voertuig C ’n passasier van motor A wat reeds uitgeklim het, teen sy oop deur vasgeslaan het. Die persoon is na die hospitaal gehaas, maar het later aan sy beserings beswyk.
|