16.03.2010 191 ongelukke in Februarie
DIE Motorvoertuigongelukfonds (MVAF) se nuutste ongelukdataontleding toon dat 191 ongelukke, 378 beserings en 18 sterftes in Februarie aangemeld is.
Minstens 94% van die ongelukke is by die belsentrum van die MVAF aangemeld en 94% van die ambulanse wat na die toneel ontbied is, het ongelukslagoffers binne tien minute bereik.
In die Oshana-streek is sewe sterftes aangemeld, in Khomas vyf, in Kavango twee en in Erongo, Omusati, Karas- en Otjozondjupa elk net een sterfte.
Sowat 52% van die sterftes wat aangemeld is, was die gevolg van voetgangerverwante ongelukke, terwyl 35% die gevolg was van ’n bestuurder wat beheer verloor het oor die voertuig of voertuie wat gerol het.
Volgens statistieke was 89% (16 mense) van die sterftes mans, terwyl 11% (twee persone) vroue was. Jong mense tussen die ouderdomme 20 tot 35 jaar was 56%, terwyl 28% kinders onder die ouderdom van 10 jaar was.
Ongeveer een derde van die ongelukke se begrafniseise is binne ’n dag na die ongeluk ingestuur, terwyl 28% van die ongelukke se begrafniseise eers twee dae na die ongeluk ingestuur is.
Alle eise is uitbetaal op die dag wat die eis ingestuur is en geen verlies van broodwinnereise is gedurende die maand van Februarie deur die MVAF ontvang nie.
|