
Só lyk vindingrykheid en hande wat skynbaar vir niks verkeerd staan nie. Die Windhoeker wat ’n unieke mobiele verkeerslig ontwerp het, mnr. Andries !Ganeb (regs), saam met die stad se verkeershoof, mnr. Elifas !Owos-ôab. Mnr. !Ganeb is van voorneme om honderde of selfs duisende van hierdie draagbare verkeersreguleerders te bou, sodra dit nog ‘n bietjie verder tegnologies verfyn is.
ONTYDIGE kragonderbrekings, ongelukke en die gepaardgaande probleme by verkeersligte in die ewig groeiende Windhoek met sy duisende voertuie – en die waardevolle tyd wat hierdeur verlore gaan – het nie ongesiens gebly nie. Daarom, met sy jongste uitvindsel van ’n mobiele verkeerslig, is Andries !Ganeb op pad om sy naam nie net in Namibië nie, maar in die wêreldgeskiedenisboeke neer te pen.
Mits alles suksesvol afloop, is hy besig om die tweede swartman in die geskiedenis te word wat die tegnologie van verkeersligte heeltemal verbeter. Garrett Morgan (1877-1963), ’n swart Amerikaner van Cleveland, was ‘n begaafde uitvinder en bekend as die eerste swart eienaar van ’n motorkar in Ohio. Hy het in die 1920’s die behoefte besef om verkeersvloei te beheer toe hy ‘n motorkar teen ’n perdekar sien bots het.

Andries haal sy verkeerslig uitmekaar.
Hy het toe die eerste outomatiese verkeerslig ontwerp – en so gehelp om die weg te baan vir die hedendaagse modelle, wat gebruikmaak van die universele kleurkode wat deur William Potts (Detroit) en James Hoge gebruik is om kleurblindheid as ‘n faktor uit te skakel. Andries het in ’n eksklusiewe onderhoud sy geheim met Republikein gedeel.
“Ek is ’n man wat baie droom en het tot die besluit gekom om ’n verkeerslig te probeer maak omdat ons baie verkeersprobleme in Windhoek en sy voorstede kry – veral wanneer verkeersligte af is. Dit veroorsaak onnodige verkeersopeenhopings,” het Andries gesê. Volgens hom kan sy uitvindsel handig te pas kom by skooloorgange, by ongelukstonele of vir ander polisiegebruik.

Die ligte werk met ’n 12 volt battery.
Andries se verkeerslig kan binne vyf minute opgeslaan of uitmekaar gehaal word. Hy gebruik sleepwaens se ligte vir sy uitvindsel. Dit is op wiele gemonteer en is draagbaar. Die baas van Windhoek se munisipale verkeersafdeling, mnr. Elifas !Owos-ôab, het Andries se tuiste in Katutura gaan besoek waar hy die man se ondernemerskap bewonder het.
Hy sê dat dit as ’n plaasvervanger kan dien indien kragonderbrekings ondervind word, en kan ook deur ’n enkele verkeersbeampte hanteer word. Naas die genoemde gevalle kan dit ook volgens hom by konstruksiepersele, voetoorgange en elders gebruik word. “Dit moet nog tot ’n bruikbare wyse gestandaardiseer en tegnologies verfyn word alvorens dit in gebruik geneem kan word.
“Botswana en Suid-Afrika het onlangs begin om soortgelyke verkeersligte wat met sonkrag werk, uit te toets. “Lande met hoë voertuigsyfers soos die Verenigde State, Brittanje en Singapoer maak reeds gebruik van mobiele verkeersligte wat met sonkrag werk,” het mnr. !Owos-ôab gesê. Hy het mnr. !Ganeb geloof vir sy lofwaardige gemeenskapsinisiatief wat daarop ingestel is om ongeluksyfers in die land te verminder.