12.11.2009 ‘Woorde is in my mond gelê’, sê Hamutenya
DIE president van die Rally for Democracy and Progress (RDP), mnr. Hidipo Hamutenya, sê Nampa het hom buite konteks aangehaal tydens 'n vergadering op Okongo waar hy na die verkiesingsprotokol van die Suider- Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SADC) verwys het.
Twee senior ministers het hulle Vrydag sterk uitgespreek oor 'n Nampa-berig wat in New Era verskyn het. Volgens die berig sou mnr. Hamutenya gesê het dat “hy glo deur die beweging van stembusse het die regerende partye in SADC die geleentheid gehad om die stembusse met nagemaakte stembusse te vervang.”
Dit, het mnr. Joël Kaapanda, Minister van Inligting en Kommunikasietegnologie, gesê impliseer dat onwettige regerings in die streek in beheer is en dit skaad die beeld van Namibië.
Mnr. Hamutenya sê hy het daarop gewys dat ingevolge die SADC-verkiesingsprotokol die vervoer van stembusse nie toegelaat word nie.
“Die SADClande het risiko’s wat die vervoer van die stembusse inhou en die moontlike verneukery geïdentifiseer en daarom besluit om daarmee weg te doen. In die geval van Zimbabwe het die Movement of Democratic Change (MDC) die verkiesing gewen toe die stembusse nie meer vervoer is nie en die uitslae in die kiesafdelings bekendgemaak is.”
Mnr. Hamutenya sê hy het nooit geïmpliseer dat regerings in SADC-lande onwettig in beheer is nie en weet daarom nie waarom die Namibiese regering twee senior ministers moes neem om hom en die RDP voor die media te veroordeel vir iets wat die staatsmedia buite verband geruk het.
“Hulle het woorde in my mond gelê wat ek nooit gesê het nie.”
|