
Mnr. Katuutire Kaura, president van DTA van Namibië, lei die dansgroep van die party se sogenaamde “A-span”.
DIE lewe is inderdaad ’n legkaart en niemand het verwag dat ’n vloedgolf van die jeug by die DTA van Namibië in hul duisendtalle sal aansluit nie.
Dit is tyd vir verandering en dit moet nou kom, het die president van DTA van Namibië, mnr. Katuutire Kaura, verlede naweek op die openbare vergadering van die party in Katutura opgemerk.
Hy het verder gesê dit is tyd om die graad 10- en graad 12-leerlinge wat gedruip het onvoorwaardelik by skole toe te laat, kinders van die oorlogveterane moet nie verder by die Swapo-hoofkantoor kampeer nie, ’n oplossing moet gevind en nou gevind word.
Hy het gesê die DTA het ’n antwoord en die jong mans en vroue is nie te oud om skool toe te gaan en akademiese en ambagsopleiding te kry nie. Hy het bygevoeg dat die kinders Namibiese burgers is en die reg het om die vrugte van hul vaderland te geniet.
Hulle moet nou erken word omdat dit hulle toekom. Namibië is onafhanklik en elke burger geniet gelyke beskerming ongevolge die handves van regte.
Mnr. Kaura het verder verwys na die artikel 23 van die Grondwet van Namibië aangesien mense soos mnr. Jurie Viljoen, Monitor Aksie Groep (Mag) se lid in die Nasionale Vergadering, dit nie verstaan nie. Subartikel (2) van artikel 23 van die Grondwet wat handel oor apartheid en regstellende aksie, handel ten dele oor die verordening van wetgewing wat direk of indirek voorsiening maak vir die bevordering van persone wat sosiaal, ekonomies of opvoedkundig deur voormalige diskriminerende wette of praktyke benadeel was.
Hy wou van mnr. Viljoen weet wie die mense of lede van die Namibiese gemeenskap is wat gely het ten opsigte van sosiale, ekonomiese of opvoedkundige ongelykhede in die Namibiese gemeenskap wat uit diskriminerende wetgewing gespruit het.
Hy het gesê hy wil nie aan die verlede klou nie aangesien die verlede dood en begrawe is en die tyd nóú is. Maar daar is diegene wat nog klou aan die vleispotte van Egipte om sodoende ’n setel in die Parlement te kan kry. Die vrygeborenes in Namibië, swart en wit kinders, sal opmars aangesien hulle onder die Grondwet gelyke kanse het om onder andere eerste ministers of presidente te word.
“Laat ons verder wegbeweeg van die begraafplaas van verkrampte politiek uit die verlede. Reaksionêre politiek het nie ’n plek op die Namibiese politieke kalendar nie,” volgens mnr. Kaura.
Hy het verder gesê Namibiërs moet vir die A-span van Katuutire Kaura, Johan de Waal, Phillemon Moongo en McHenry Venaani stem aangesien dit die span is wat die pensioenuitbetalings van die bejaardes tot N$1 200 per maand sal verhoog.
Dit is die span wat studuiebeurse sal voorsien aan die kinders van die ouers wat dit nodig het, maar nie aan President Hifikepunye Pohamba se dogter en sy ministers se kinders nie.
Hy het aangevoer dat dit die A-span is wat moontlik gemaak het dat onder andere die Sanvolk in doodkiste begrawe word en nie in plastieksake nie, dat speenkalwers op die hoef na Suid-Afrika uitgevoer word en eiendom in die kommunale gebied by die banke as kollateraal gebruik kan word.
Miljarde Namibiese dollar lê rond in die kommunale gebiede en is nie bruikbaar nie omdat die eienaars hiervan nie transportaktes kan bekom nie. Hy het belowe dat as DTA aan bewind kom, hulle NamWater met onmiddellike effek sal afskaf en die verantwoordelikheid om na werkloses, weeskinders, bejaardes en siekes om te sien, aan die Regering sal oordra.
Onder die DTA-bewind sal die polisiemag beter toegerus word om veediefstal en plaasmoorde uit te roei. Geen buitelandse maatskappy sal toegelaat word om huise in Namibië te bou wat die burgers van die land self kan bou nie. Die DTA-regering sal die voor-Omugulugwoombashe- geskiedenis behou.
Volgens hom het die Swapo-regering nie ’n hart nie, geen meegevoel met die land se mense nie en op 27 en 28 November moet daarmee weggedoen word. “Stem vir verandering, stem vir DTA!” het mnr. Kaura gesê.