22.5.2012
 Argiewe:

Vandag se Spotprent


Gene Travers

Market indicators


22 Mei 2012

30 Bruidspare gekies


Advertensie
Advertensie

Ons Argiewe

16.02.12

Graf nooit toegegooi

15.02.12

Ongeluk eis bekende in perdrykringe

13.02.12

KK oor vingers getik

14.02.12

Drie fetusse binne ’n week

16.02.12

Kuberkrakers steel miljoene

27.10.2009

‘Verandering sal kom’, sê RDP


Dr. Nathan Elias Kapofi.

DIE regerende party is Saterdag op ’n RDP-vergadering by Odibo in die Ohangwena-streek herhaaldelik van misplaaste en verkeerde prioriteite beskuldig.

Die RDP se sekretaris van inligting, mnr. Jeremiah Nambinga, was die hoofspreker en het sy spreekbeurt met ’n oomblik van stilte ingelei ter gedagtenis aan “die dapper vryheidsvegter”, wyle past. Hendrik Witbooi.

Hy het ’n groot deel van sy toespraak gebruik om oor bedrae geld wat uit die staatskoffers gesteel of misbruik is, te praat.

“Meer as N$1,5 miljard is oor die jare gebruik om Air Namibia kunsmatig aan die lewe te hou. Die geld was genoeg om sowat 20 sekondêre skole en 50 primêre skole te bou,” het hy gesê.

Me. Loide Neshuku, RDP se sekretaris vir die Oshikango-kiesafdeling.
Volgens hom het die Swapo-regering 858 voertuie van Omatemba Fleet Services teen N$16 500 per voertuig per maand gehuur en “ons weet wie die mense is wat deur hierdie skema bevoorreg is”.

Hy het ook die ODC se N$100 miljoen, die GIPF se N$650 miljoen en die SSC se N$30 miljoen genoemas bewyse van hoe Namibiërs se geld onder Swapo-toesig ongestraf gesteel word.

“Hierdie geld is nie ondergronds of hemelwaarts nie. Dit is in sommige mense se beursies. Die geld waarvan ek praat, is jou geld wat veronderstel was om tot almal se voordeel aangewend te word,” het hy gesê.

Volgens mnr. Nambinga was President Hifikepunye Pohamba as Namibië se verlosser beskou toe hy sy beleid van geen verdraagsaamheid met korrupsie verklaar het.

“Ek was een van die mense wat mnr. Pohamba geloof het, maar die geskiedenis het my verkeerd bewys. Mnr. Pohamba is magteloos en kan nie werklik teen korrupsie optree nie,” het hy gesê.

Hy het ook gepraat van die N$450 miljoen vir ’n nuwe presidensiële vliegtuig, N$42 miljoen vir die oprigting van die kantoor van “’n afgetrede president, wat in enige geval nagenoeg N$51 miljoen per jaar verdien” en die nuwe Staatshuis wat tussen N$600 miljoen en ’n miljard dollar kos.

“Ons is nie in beginsel gekant teen die oprigting van ’n nuwe staatshuis nie, maar dit is net verkeerd om ’n staatshuis wat soos die hemel lyk te bou terwyl mense in armoede bly.”

Volgens mnr. Nambinga het die staat se dienslewering sedert onafhanklikwording negentien jaar gelede so versleg dat hysbakke van die Katutura-staatshospitaal nou buite werking is, terwyl die sentrale hospitaal wat met onafhanklikwording soos ’n paradys gelyk het, tans in ’n skandelike toestand is.

“Geneeshere probeer hul bes, maar daar is nie medisyne nie. Panado het die wondermiddel vir alle siektes geword. Indien staatsgeld nie verkeerd gebruik was nie, sou Namibiërs hulle nie in hierdie lelike situasie bevind nie. Swapo is sy visie kwyt. Dit is hoekom ons uit die party bedank het om verandering teweeg te bring,” het hy gesê.

Volgens hom was die groot skare by Saterdag se vergadering ’n bewys dat die mense verandering wil sien.

“Verandering sal kom. Dit is nie ’n kwessie van wanneer nie, maar dit sal kom.” Mnr. Nambinga, wat gesê het dat Swapo-politici en senior staatsbeamptes wat die omstrede Chinese studiebeurse vir hulleself toegeëien het, vervolging verdien, het gesê die RDP sal gesondheid, onderwys en nywerheidsontwikkeling as prioriteite beskou.

Me. Loide Neshuku, die RDP se sekretaris in die distrik Oshikango, het gesê die besluit om die vergadering op Odibo te hou, was deels gemik om die aandag te vestig op hierdie geskiedkundige plek wat tans verwaarloos is.

“Ons het ’n senior sekondêre skool, ’n kerk en ’n kliniek … maar kyk net hoe lyk die toegangspad,” het sy gesê. Die Anglikaanse sendingstasie by Odibo is in die 1920’s gestig en is ’n toonaangewende plek waar verskeie ikone van die bevrydingsoorlog op skool was.

Me. Neshuku het gepraat van die onregverdige toestaan van studiebeurse en die politiek gemotiveerde druk op en verplasing van onderwysbeamptes. As voorbeeld het sy verwys na die potensiële verplasing na Windhoek van Ohangwena se streekdirekteur, mnr. Josia Udjombala, en “die ouers” wat die afdanking eis van mnr. Dengeinge Sheya, die hoof van die Sekondêre Skool Haimbili Haufiku, die beste vertoner in die Noorde.

Sy het RDP-lede en -ondersteuners versoek om te gaan stem. “Om by die huis te bly, beteken een minder stem vir die RDP.” Mnr. Nikanor Ndjoze het Swapo met ’n malariamuskiet vergelyk. “Diegene in Swapo wat nie ’n sê het nie, moedig ons aan om voort te gaan. Hulle sien die RDP as hul enigste hoop.”

Volgens hom gaan die verkiesing oor brood en botter, die welstand van die gemeenskap en die toekoms van die kinders.

“Wanneer Swapo-leiers na jou toe kom en vra dat jy vir Swapo moet stem, vra hulle waarom?”

Dr. Nathan Kapofi het op sy beurtgesê dit is jammer dat sommige mense op die voormalige glorie van Swapo konsentreer en die werklikhede van die hede ignoreer.

“Iets nuuts is besig om te ontvou … kan julle dit nie raak sien nie?"