25.07.2008

‘Sit Shaduka,’ eis betogers

© Niël Terblanché
Emosies het hoog geloop toe familie en vriende van die vermoorde me. Selma Shaimemanya gister saam met lede van ’n aksiegroep vir menseregte voor die landdroshof in Windhoek versamel het om teen borgtog vir mnr. Lazarus Shaduka te protesteer.
FAMILIE en vriende van die vermoorde me. Selma Shaimemanya asook lede van ’n menseregtegroep het gister voor die landdroshof in Windhoek teen moontlike borg vir mnr. Lazarus Shaduka betoog. Mnr. Shaduka, ’n voormalige vakbondleier en senior munisipale beampte, word daarvan beskuldig dat hy sy vrou sowat twee weke gelede in hul woning in BC Barnesstraat doodgeskiet het. Hy wou al verlede week 'n formele borgaansoek gebring het.

Die mense wat aan die vreedsame protesaksie deelgeneem het, was onder die indruk dat die aansoek gister sou dien en was oorgehaal om hul versoekskrif aan die hoof van die landdroste in Windhoek, me. Rina Horn, te oorhandig. Die polisiebeamptes het toesig oor die betoging gehou en toe me. Horn nie opdaag nie, is die groep versoek om aanstaande Woensdag weer te probeer. Hulle is ingelig dat die borgaansoek op 30 Julie sal dien.

Protesplakkate het geweld teen vroue veroordeel en selfs versoek dat die doodstraf in hierdie geval uitgemeet word. Die bevoordeling van welgesteldes en mense met politieke mag deur die Namibiese regstelsel is ook ongenaakbaar veroordeel. Die groep het luidkeels slagspreuke herhaal en liedere oor ’n vredevolle rus vir die vermoorde me. Shaimemanya gesing.

Die egpaar het blykbaar gestry toe me. Shaimemanya met ’n pistool van agter in die nek geskiet is. Na die skietvoorval op Sondag 13 Julie het mnr. Shaduka sy vrou na die Paramount- kliniek in Eros geneem, waar hy aangevoer het dat sy probeer selfmoord pleeg het. Sy is met haar aankoms dood verklaar.