
Me. Corlé Nolte, wat ‘n storie van ontvoering en ‘n losprys van N$3 000 aan die wêreld vertel het om ‘n klag van winkeldiefstal vry te spring, daag saam met haar eggenoot, Schalk, by die polisiekantoor in Windhoek op. Mnr. Nolte het verlede week ‘n e-posboodskap uitgestuur om inwoners van Windhoek teen ‘n ontvoeringsbende te waarsku. Me. Nolte is formeel aangekla van meineed en diefstal en het gister op dié klagte in die hof verskyn. Sy is op borgtog van N$2 000 vrygelaat.
DIE “gyselaarsdrama” verlede week in die Windhoekse middestad met die agt maande swanger me. Corlé Nolte as die “slagoffer”, het gister op ironiese wyse geëindig toe sy op klagte van meineed en winkeldiefstal in die landdroshof moes verskyn.
Me. Nolte is gistermiddag deur haar regsverteenwoordiger, mnr. Sarel Maritz, na die polisiekantoor in Windhoek vergesel sodat formele klagte teen haar gelê kon word. Me. Nolte se swangerskap het verhoed dat sy gister in die polisieselle toegesluit is. Ná die klagte teen haar gelê en geprosesseer is, is sy na die hof geneem waar borgtog van N$2 000 aan haar toegestaan is.
Haar eggenoot, Schalk, wat verlede week ‘n e-posboodskap versprei het waarin hy ander inwoners van Windhoek teen die beweerde ontvoeringsbende gewaarsku het, was aan haar sy. Hy het haar bygestaan vandat sy by die polisiekantoor opgedaag het en na die afhandeling van die hofverrigtinge het hy haar borgtog betaal.
Me. Nolte het verlede week, ná die e-posboodskap soos ‘n veldbrand deur die land versprei het, aan die wêreld vertel dat sy deur ‘n man en vrou ontvoer en in ‘n taxi gyselaar gehou is. Sy het vertel dat die mense haar gedwing het om haar ma, me. Cora Burger, te skakel sodat dié vir hulle die losprys van N$3 000 kon betaal voor sy vrygelaat is.
Die naweek het die versinsel egter in me. Nolte se gesig ontplof toe gerugte die rondte begin doen het dat sy inderwaarheid in Truworths in die Mutual Platz inkoopsentrum betrap is terwyl sy klere in die winkel gesteel het. Me. Burger is aanvanklik geskakel om die waarde van die gesteelde items aan die winkel te vereffen en me. Nolte is deur die sekuriteitswagte na die polisiekantoor vergesel sodat hulle haar van winkeldiefstal kon aankla.

Komm. Marius Visser (links), hoof van die Namibiese polisie se speurafdeling in die Khomas-streek, op soek na me. Corlé Nolte vir haar inhegtenisneming. By hom is haar man, mnr. Schalk Nolte.
Op pad na die polisiestasie het omkoopgeld glo ter sprake gekom. In dié opsig is die N$3 000 met die verstandhouding dat niks verder met die klag sou plaasvind nie, aan die veiligheidswagte oorhandig en sy is toegelaat om vry te gaan. Corlé was op aanbeveling van haar regsverteenwoordiger nie bereid om die rede vir die ontvoeringsversinsel te verskaf nie.
Die klag van meineed teen me. Nolte spruit uit die feit dat sy die klag van ontvoering by die polisie aanhangig gemaak het en op dié wyse gepoog het om die regsproses te verydel. Die klag van winkeldiefstal is ná die gyselaarsdrama rugbaar geword het, deur die bestuur van Truworths by die polisie aanhangig gemaak.
Die bevelvoerder van die polisie se speurafdeling in Windhoek, kommissaris Marius Visser, was gisteroggend by die Nolte-egpaar se woning in Bruhnstraat om haar in hegtenis te neem. Hy het toe te kenne gegee dat ‘n dossier met die klag van meineed reeds teen me. Nolte geopen is.
Terwyl huishulpe die ondersoekbeamptes vertel het dat me. Nolte nie by die huis is nie, het haar eggenoot daar opgedaag. Hy was toe reeds per selfoon in gesprek met adv. Maritz en hy het die telefoon aan komm. Visser oorhandig. Op sy beurt het komm. Visser die regsgeleerde versoek om sy kliënt om 14:00 by sy kantoor te besorg sodat hy agter die kap van die byl kan kom.
Landdros Claudia Claasen het die borg van N$2 000 aan me. Nolte toegestaan en haar beveel om nie die landdrosdistrik van Windhoek sonder toestemming van die ondersoekbeampte te verlaat nie. Die saak is uitgestel tot 20 Junie vanjaar wanneer adv. Maritz aangedui het dat sy kliënt gereed sal wees om op die klagte van meineed en diefstal te pleit. Adv. Maritz het ook aangedui dat die verhoor op daardie dag kan voortgaan.