29.09.2009 ’n Party vir alle Namibiërs
 Mnr. Henk Mudge midde ’n skare betogers wat in 1997 mnr. Dirk Mudge en ander wit DTA leiers as verraaiers uitgekryt het.
DIE president van die Republikeinse Party (RP), mnr. Henk Mudge, het by die opening van dié party se kongres die naweek in Windhoek gesê die RP het nuwe hoogtes bereik en is sonder twyfel verteenwoordigend van al die mense van Namibië, van die verre suide tot die verre noorde.
Hy sê die RP is die enigste party wat vanweë sy geskiedenis, verbintenis en integriteit kan uitreik na almal teen wie ernstig gediskrimineer word, in die besonder die wit gemeenskap.
“Ons sal nie ophou veg vir ’n beter en vreedsame Namibië nie, vry van alle vorms van diskriminasie teen individue en minderheidsgroepe,” het mnr. Mudge gesê.
Hy het vertel hoe hy en sy familie self aan die ontvangkant van beledigings was toe sy pa, mnr. Dirk Mudge, in 1979 ’n wetsontwerp in die eerste veelrassige grondwetgewende vergadering ingedien het om voorheen eksklusiewe woonbuurte vir alle bevolkingsgroepe oop te stel en weg te doen met afsonderlike openbare geriewe soos staatsgeboue, restaurante, kafees, teaters en openbare toilette.
Hy was destyds ’n student, maar was in Windhoek en wou die betrokke sitting van die grondwetgewende vergadering bywoon. Buite die Turnhalle- gebou is hy deur ’n horde witmense gekonfronteer wat plakkate geswaai het waarin sy pa uitgekryt is as ’n verraaier wat voor ’n militêre hof gebring moes bring of in die see ingejaag moes word.
Mnr. Mudge (sr) is ook deur die destydse president van Suid-Afrika, mnr. P.W. Botha beledig en betugtig.
Hy het ook die geskiedenis van die RP uitgelig wat met die 1989 onafhanklikheidsverkiesing dormant geword het met versoeke aan lede om individueel by die DTA van Namibië, waarvan die RP tot daardie tyd ’n lidparty was, aan te sluit.
Die DTA het 21 setels in die grondwetskrywende vergadering verower en saam met ander opposisiepartye daarin geslaag om meer as ’n derde van die setels in te palm, wat hulle in staat gestel het om ’n positiewe bydrae tot die skryf van die Grondwet te maak.
Drie jaar na onafhanklikwording het mnr. Mudge (sr) afgetree en sy uittrede uit die politiek aangekondig. Hy was egter nog die president van die RP.
’n Vergadering van die laaste uitvoerende komitee van die RP is belê om te besluit of die party moes herleef of ontbind. Daar is besluit om die party te heraktiveer en ’n komitee onder voorsitterskap van mnr. Johan de Waal moes die party organiseer en ’n kongres reël.
Twee jaar later het egter steeds niks daarvan gekom nie en mnr. Mudge het voorgestel dat mnr. Pieter Boltman die leisels oorneem. ’n Kongres is gehou waar mnr. Boltman as president en mnr. Mudge as visepresident verkies is. Op die kongres is oorweldigende opposisie uitgespreek teen die RP se verdere assosiasie met die DTA.
’n Jaar later het mnr. Boltman as president en lid van die RP bedank omdat hy steeds die DTA-goewerneur van die Hardap-streek was en van dié posisie sou moes afstand doen indien die RP wegbreek van die DTA. Mnr. Mudge het waargeneem as president en is tydens die volgende kongres as president van die party verkies.
In die 2004 verkiesings vir lede van die Nasionale Vergadering het die RP een setel gekry en in die plaaslike owerheidverkiesings agt raadslede ingestem gekry.
Die party het egter met ’n reuse oortrokke bankrekening van byna N$1 miljoen gesit.
Volgens mnr. Mudge het dinge hier begin skeef loop met mnr. Daan Holzhausen wat mnr. Mudge (sr) probeer insleep het om borg te teken vir die party se skuld.
Hierbenewens het nie een van die verkose lede van die party op plaaslike owerheidsvlak, met die uitsondering van die raadslid vir Outjo, enige finansiële bydraes gemaak tot die party nie en boonop geen werk in hul kiesafdelings gedoen om die party te bevorder nie.
Desondanks het die RP daarin geslaag om sy oortrokke rekening tot N$450 000 te verklein. Die hele land is bedien deur twee organiseerders en een voertuig. Persoonlik het mnr. Mudge nooit enige sent van die RP geneem nie en self vir sy vervoer en verblyf betaal as hy in die land op reis was en selfs sy eie kantoor en sekretaresse in diens van die party geplaas. Hierbenewens moes hy elke sitting van die Nasionale Vergadering bywoon en op vier parlementêre portefeuljekomitees dien en aan soveel debatte moontlik deelneem. Sy eie sakebelange moes hy agterweë laat vanweë sy betrokkenheid in die politiek.
“Skielik moes ek agterkom dat mnr. Daan Holzhausen, wat in die verlede met my saamgestem het dat die raadslede nie ’n bydrae maak tot die bevordering van die party nie, probleme met my as partyleier en die party ondervind. By meer as een geleentheid het hy gesê die RP is oorspronklik gestig om die belange van die wit bevolking te dien en dat die party wit steun verloor omdat die persepsie bestaan dat die party nie genoeg doen om witmense se belange te dien nie. Dit is beslis nie waar nie.
Hy het voorgestel dat ek die tuig as leier van die RP neerlê en deur mnr. Boltman vervang word, wat ons in die steek gelaat het, kort voor die 2004 verkiesing om teen die RP ’n veldtog te voer en op geen tydstip aangedui het dat hy na die RP sou terugkeer na hy sy pensioen ontvang het nie,” het mnr. Mudge gesê.
Hy sê voorts hy moes hoor dat probleme met hom ondervind word, maar weet tot vandag toe nie wat daardie probleme is nie.
Hy hou vol dat hy op ’n kongres verkies is en dat net die RP se kongres hom van sy pligte kan onthef. Die afgelope naweek se kongres sou die ideale geleentheid gewees het om dit te doen. Mnr. Holzhausen en mnr. Nico Smit en ander is egter weg uit die RP.
Die bedanking van mnr. Ignatius Semba is ook deur mnr. Mudge afgemaak. Hy sê mnr. Semba is nie uit die party geskors nie, maar is deur die bestuurskomitee as betaalde beampte afgedank omdat hy klaaglik misluk het as organiseerder. Hy het geen formele posisie in die RP gehad nie en die sogenaamde vyf jeugleiers van kiesafdelings in Katurura wat saam met hom ‘bedank” het, is onbekend aan die RP.
Hierbenewens kon nóg mnr. Boltman nóg die vyf sogenaamde jeugleiers bedank, omdat hulle nie lede van die RP was nie.
|