
Me. Christophine “Kitto” Paulus
“’n SWAPO-smeerveldtog.” Dit is die Rally for Democracy and Progress (RDP) en ses ander opposisiepartye se kandidaat vir Woensdag se tussenverkiesing op Okahandja, me. Christophine “Kitto” Paulus, se beskrywing van bewerings dat sy glo ’n langer misdaadrekord as die regerende party se omstrede mnr. Steve “Biko” Booys het.
Die kernkraak in Swapo wat tot die begin van ’n interne suiweringsveldtog gelei het wat steeds voortduur en die vonk vir die RDP se wegbreekaksie was, sit volgens me. Paulus ook agter ’n vals beskuldiging in die aanloop tot Swapo se stormagtige buitengewone kongres in 2004 dat sy glo as hofklerk borggeld verduister het.
Sy het verseker dat die klag tydens haar eerste hofverskyning summier uitgegooi is ná die klaer nie by die hof opgedaag het nie en glo erken het dat hy opgesteek was om te verhoed dat me. Paulus die distriksvergadering van Swapo kon bywoon wat afgevaardigdes na die kongres sou nomineer.
Oor gerugte dat sy na bewering ook al ’n kar gesteel en dit toe gestamp het, het me. Paulus net diep uit haar maag gelag. Die rokie van bewerings dat daar glo veel meer geraamtes in me. Paulus se kas as die van haar Swapo-teenstander skuil, het al vroegoggend begin op die dag dat Republikein onthul het dat mnr. Booys in 2001 skuldig gepleit en ’n boete betaal het vir die onwettige besit van ammunisie.
Hy het die klad op sy naam as ’n jeugdige foutjie afgemaak wat hom nou die ideale kandidaat maak in die stryd teen misdaad. Me. Paulus het reeds twee naweke gelede in ’n politieke toespraak op die Tuindorp gesê sy het absoluut geen kriminele rekord nie.
“Swapo maak stories op,” sê me. Paulus. En die soort propaganda en swartsmeer-skinderveldtogte is volgens haar ou laai – ook toe die party haar in 2006 as munisipale raadslid in die pad gesteek het omdat sy gebrandmerk was as ’n ondersteuner van mnr. Hidipo Hamutenya.
“Weet jy wat het gebeur?” vertel me. Paulus.
“In 2004 gaan kla iemand skielik voor die distrikskonferensie dat ek glo borggeld gevat het. “Toe die polisie by my kom, sê ek: ‘Gaan haal die man!’”
Volgens me. Paulus het sy nooit die klaer met ’n oog gesien nie en het hy ook nie die volgende dag as getuie by die hof opgedaag nie. Die aanklaer het volgens me. Paulus in die hof gevra dat die klag teruggetrek word omdat die klaer intussen erken het dat hy opgesteek is.
“Ek het nie in die tronk gesit nie,” het sy verseker oor aantygings dat sy ’n nag in die selle moes deurbring. Sy het ook nie borg betaal nie. S
oos die duiwel dit wou hê, is die distriksvergadering volgens me. Paulus met ’n dag vertraag, wat beteken het dat sy wel teenwoordig kon wees – en boonop verkies is as afgevaardigde na die kongres.
Me. Paulus sê dit is ’n ope geheim dat daar op die heel hoogste vlak deur mnr. Sam Nujoma besluit is dat sy ten alle koste gediskrediteer moet word.
“Hulle sal enigiets doen om te verhoed dat die hardekwas Kitto die setel wen, want ek sal maar net op altwee my voete teen Swapo se misbruik en die miskenning van ander se belange aanhou opstaan.”
Volgens me. Paulus is sy nie bewus van geen ander hangende klagte teen haar by die polisie nie en is sy nog nooit aan enige misdryf skuldig bevind nie.
“Die Here, die Almagtige, sal ook die sakie oplos,” het sy opgemerk.