2.07.2009 ‘Kastreer verkragters – mans én vroue’
KASTRASIE het die onderwerp van debat geword nadat die Adjunkminister van Geslagsgelykheid en Kinderwelsyn, me. Marlene Mungunda, haar mening uitgespreek het oor die impak van geslagsgebaseerde geweld op die gemeenskap.
Die CoD Parlementslid me. Nora Schimming-Chase het gesê dat verkragters in die land as straf gekastreer behoort te word as ’n afskrikmiddel vir voornemende oortreders. Sy is van mening dat huidige wetgewing nie meer voldoende is om dié soort geweldsmisdaad hok te slaan nie.
“Gevalle van verkragting neem jaarliks toe en dit is nie net genoeg dat ons wetgewing het nie, die wette moet toegepas word,” het me. Schimming-Chase gesê.
Sy is van mening dat naas moord, verkragting seker een die mees gewelddadige misdade is. Sy het die voorbeeld van ’n onlangse geval in Rehoboth genoem waar ’n jong skoolgaande meisie bedwelm is en daarna betrokke was in skokkende seksuele dade wat met selfoonkameras verfilm en die land vol versprei is.
“Ek is bly die ouers op die dorp het aksie geneem om verdere gevalle te voorkom,” het me. Schimming-Chase aan die lede van die Huis genoem.
Die Adjunkminister van Arbeid en Maatskaplike Welsyn, mnr. Petrus Iilonga, het aan me. Schimming-Chase gevra of sy regtig dink kastrasie sal die probleem oplos en of dit nie dalk gaan gebeur dat die gekastreerde oortreder tot moord sal oorgaan nie.
Me. Schimming-Chase het hierop geantwoord en gesê kastrasie sal eerder ’n afskrikmiddel wees. “Daar is niks meer wat ’n verkragter méér sal vrees as kastrasie nie,” het me. Schimming-Chase gesê.
Die Adjunk Eerste Minister, dr. Libertina Amathila, het in haar spreekbeurt genoem dat sy dink hierdie aangeleentheid behoort opgevolg te word.
Hierop het die Eerste Minister, mnr. Nahas Angula, aan me. Schimming-Chase gevra hoeveel getroude vroue sy dink kastrasie sal ondersteun.
Die DTA-parlementslid, Philemon Moongo, het gevra dat vroue ook gekastreer moet word en dat daar nie vooroordele teenoor net mans in geslagsgebaseerde geweld moet wees nie.
Me. Schimming-Chase het afgesluit deur te sê as hierdie soort geweld teen die huidige koers voortduur, sal volgende generasies net meer gewelddadig word.
|