
Van links verskyn dr. Hage Geingob (visepresident van Swapo), oudpresident Sam Nujoma, die adjunksekretaris-generaal van Swapo, mnr. Nangolo Mbumba, die Swapo-kandidaat vir die komende verkiesing op Okahandja, mnr. Steve “Biko” Boois en die Adjunkminister van Justisie, mnr. Utoni Nujoma.
DIE hoofspreker by Sondag se massavergadering van Swapo in Okahandja se Nau-aib woonbuurt, oudpresident Sam Nujoma, het sy teleurstelling uitgespreek en te velde getrek teen die voormalige munisipale besture wat baie min gedoen het om die dorp se ekonomiese potensiaal te verhoog en beleggers te lok.
Mnr. Nujoma het gesê die proses om beleggers na die dorp te lok, het nie geslaag nie bloot omdat diegene wat in die kantore van die raad was en verantwoordelik vir die bestuur van die dorp was, hul tyd vermors het deur die programme van die Swapo-party te saboteer. “Ek is vandag nie verbaas om te weet dat hulle by die opposisiepartye aangesluit het nie.

Dr. Hage Geingob, visepresident van Swapo, verwelkom mnr. Sam Nujoma by Sondag se massavergadering in Okahandja.
“Daarom rig ek ’n versoek tot al die ondersteuners van Swapo om tydens die tussenverkiesing op 24 Februarie vir die Swapo-kandidaat, mnr. Steve “Biko” Boois te stem en sodoende die verwarde opposisiepartye te sit waar hulle hoort, naamlik in die asdrom van die geskiedenis.”
Die visepresident van Swapo, dr. Hage Geingob, wat dr. Nujoma na die podium genooi het, het op sy beurt wal gegooi teen die doemprofete wat Swapo as ’n etnies geörienteerde organisasie wil bestempel en uitkryt. Dr. Geingob het daarop gewys dat die Stigterpresident, mnr. Nujoma, geen etniese kleur ken nie en dat etnisiteit ook nie die beginsels van die party is nie.
Volgens hom is dr. Nujoma nie ’n Damara, Herero, Nama, Kavango, Basubia, Kwanyama of ’n Okandjera nie, maar ’n seun van Namibië wat geen etniese konnotasie voorhou nie. Swapo is volgens hom ’n tuiste vir elke Namibiër.
“Mnr. Nujoma het ons in ’n baie moeilike tyd bymekaar gehou en hoop gegee dat die land eendag onafhanklik sou word en dat ons vergaderings buite Windhoek gaan hou terwyl ons moedeloos hieroor was. “Hy is ’n man van visie wat vooruit kon sien wat die toekoms vir Swapo voorgehou het toe ons in die buiteland was.”