20.11.2009 ‘Herroep reserveringsplan, of...’
’n VEELPARTYPROTES teen die Regering blyk onafwendbaar te wees sou die Eerste Minister nie die Kabinetsbesluit wat voorsiening daarvoor maak dat alle junior intreeposte in die Regering gereserveer moet word vir die Plan-nasate, kragtens artikel 40 (k) van die Grondwet herroep nie.
Die bepaling moet so gou as moontlik teruggetrek word voor daadwerklike stappe gedoen word om dit te laat herroep. Die betoog kom die week van Nudo nadat ander partye soos die DTA die kwessie veroordeel het sedert die nuus verlede week soos ’n veldbrand versprei het.
Volgens ’n verklaring wat Nudo deur middel van sy president, opperhoof Kuaima Riruako uitgereik het, is aan die Eerste Minister glo die mandaat gegee om deur middel van ’n Kabinetsbesluit die verskillende ministeries en regeringsagentskappe te verplig om voortaan voorkeur te verleen aan die Plan-nasate voor ander werklose jeug oorweeg moet word.
“Nudo van Namibië is aangeraai en glo inderdaad daarin dat so ’n optrede deur die Kabinet en die Eerste Minister se Kantoor ongrondwetlik is. “Artikel 5 van die Grondwet van Namibië plaas in besonder ’n taak op alle staatsorgane om die fundamentele regte en vryhede te beskerm wat in die Grondwet verskans is.
“Inteendeel, die Kabinet is kragtens artikel 40 (k) van die Grondwet van Namibië bemagtig om kennisgewings, instruksies en riglyne om die implementering en administrasie van wette te administreer, onderhewig aan die voorwaardes van die Grondwet of enige ander wet – maar enige bepaling van die Kabinet wat die Grondwet skend, gaan nie wettig wees nie,” het opperhoof Riruako gewaarsku.
Volgens hom is die werkloosheidsyfer onder die jeug 60 persent, maar dan is die Regering se antwoord daarop die selektiewe reservering van werk vir die Plan-nasate, ‘n verdere verlenging van die filosofie van werk aan kamerade. Dit is volgens hom die Regering se verantwoordelikheid om die noodroep van die jeug aan te spreek deur middel van lewensvatbare werk-en kapasiteitsbouprogramme vir al die werklose Namibiërs regoor die land.
|