22.5.2012
 Argiewe:

Vandag se Spotprent


Gene Travers

Market indicators


22 Mei 2012

30 Bruidspare gekies


Advertensie
Advertensie

Ons Argiewe

16.02.12

Graf nooit toegegooi

15.02.12

Ongeluk eis bekende in perdrykringe

13.02.12

KK oor vingers getik

14.02.12

Drie fetusse binne ’n week

16.02.12

Kuberkrakers steel miljoene

24.11.2009

‘Genoeg korrupsie en afskeep het voorgekom’


V.l.n.r. Me. Elsada Kruger, mnre. Corné Kruger, Nic Kruger en Heiko Lucks verwelkom mnr. Hidipo Hamutenya by Saterdag se RDP-vergadering.

DIE Rally for Democracy and Progress (RDP) het hoop en vertroue vir Namibiërs gebring en Swapo uit sy sluimering van die afgelope 20 jaar wakker geskud. Dit verduidelik waarom Swapo so obsessief oor die RDP is.

Verandering is egter voor die deur met die RDP wat daadwerlike planne het om dinge in die land reg te ruk. So het die RDP se sekretaris vir die Khomas-streek, me. Helena Negolo, Saterdag op die RDPvergadering in Katutura gesê.

Mnr. Rudolph Kamburona het op sy beurt beklemtoon dat die RDP nie geweld voorstaan nie. Die RDP gee om vir gehalte onderwys. Ten einde dit te bewerkstellig, moet omvattende hervorming van die leerplanne, onderwysersopleiding en die metodiek van onderwys van stapel gestuur word.

Wat grondhervorming betref, sê mnr. Kamburona onbenutte grond in kommunale gebiede moet ontwikkel word en met huurpagsertifikate aan die hervestigde boere gegee word. Hierdie sertifikate kan as kollateraal dien vir lenings sodat hierdie boere hul plase kan ontwikkel en opbou.

Deeglike opleiding moet ook aan hervestigdes gegee word.

Een van die sogenaamde vrygeborenes, diegene wat na onafhanklikwording gebore is, me. Anna Andreas, was ook op die verhoog. Sy het gesê dit is ’n skande dat Chinese beurse van gewone jong mense weerhou en dit aan kinders van ministers en hooggeplaastes in die Regering gegee is.

Sy het jong mense aangemoedig om vir die RDP te stem omdat hulle veilig in die party se hande is. Namibië was volgens haar te lank in die hande van ’n waansinnige enkel regeerder met onbeperkte mag.

Me. Miriam Hamutenya het op haar beurt gesê daar word wel na die huidige geslag jong mense as vrygeborenes verwys. Wat haar betref, is hulle in boeie gebore in ’n land onder die juk van korrupsie.

Nog ’n kandidaat op die RDP se lys vir lede van die Nasionale Vergadering vir die komende verkiesing, mnr. Nic Kruger, het op sy beurt gesê soos die geval met ’n rekenaar, moet mense soos Swapo se Paulus Kapia, Sam Nujoma, Jerry Ekandjo en Pendukeni Iivula- Ithana, in die hersirkuleringsmandjie van die geskiedenis geplaas word.

Kiesers moet op Vrydag en Saterdag met hul kruisies op die stembriewe tot dié stap oorgaan.

“Daar is enkele dae oor voor ons die land terugneem van die party wat dink hulle besit die land. Ons het genoeg korrupsie, verwaarlosing en armoede die afgelope 20 jaar ervaar. Dit is tyd vir ’n verandering en die RDP het betroubare leiers wat die demokrasie sal konsolideer en politieke verdraagsaamheid sal bevorder.”

Hy het ook die ongebalanseerde nuusdekking van die NBC wat volgens hom 83 persent van sy lugtyd aan nuus oor Swapo bestee, betreur. Die kieserslys is volgens hom ’n gemors en dit is hoe Swapo dit wil hê ten einde vrye en regverdige verkiesings aan bande te lê. Boonop is die Verkiesingskommissie ’n marionet in die hande van Swapo wat net na Swapo se pype dans.

Mnr. Kruger sê Swapo is ’n slang met twee tonge wat aan die een kant sê hy glo aan ’n vrye media en hy wil vrye en regverdige verkiesings sien, maar dan elke denkbare truuk en foefie uithaal om die teendeel te doen.

Hy sê deur aan Swapo nog ’n vyf jaar termyn te gee, sal beteken dat jong mense ’n nog meer hopelose toekoms in die gesig staar as wat nou die geval is. Met verwysing na die Swapokandidaat, mnr. Pieter van der Walt, wat glo derduisende dollar bestee het aan advertensietyd op TV in ’n poging om wit Namibiërs te oortuig om vir Swapo te stem, het mnr. Kruger gesê dit sal die dag wees.

Wit Namibiërs, veral boere, is die afgelope jare deur die Regering gyselaar gehou. Wit Namibiërs is deel van hierdie land en wil graag ’n bydrae lewer, maar word misken deur Swapo. Hoekom sal enige wit Namibiër vir Swapo wil stem, terwyl die party se leiers van openbare verhoë af alles in hul vermoë doen om wit Namibiërs te beledig, te dreig, sleg te maak en af te breek?

Die RDP is volgens hom die tuiste vir wit Namibiërs omdat die party hulle die geleentheid bied om ’n positiewe bydrae en verskil in die land tot voordeel van alle Namibiërs te maak.