Vandag se Spotprent


Gene Travers

Market indicators


3 Februarie 2012

Advertensie
Advertensie

Ons Argiewe

06.12.11

Polisieman, boer vertel van ongeluk

05.12.11

Vakansiepad open sy tol

05.12.11

Geen borg vir Susanne Hoff

09.12.11

Vir braaivleisvuur, is permit die kuur

07.12.11

Omkopery op lughawe

9.02.2010

‘Aktivis’ kry taai klap

© Niël Terblanché
’n Swaar verbinde mnr. Fritz Cooper buite die kroeg op Kalkrand waar hy na bewering deur ’n polisiebeampte van die dorp aangerand is.
ONMIN tussen sogenaamde gemeenskapaktiviste en polisiebeamptes van Kalkrand het met ’n geveg in ’n kroeg op die dorp opnuut tot uitbarsting gekom.

Volgens mnr. Fritz Cooper, ’n man wat homself ’n gemeenskapaktivis noem, is hy met voorbedagte rade deur ’n polisiebeampte aangerand.

“Ons was almal saam in die Kalahari Bar en dit was al taamlik laat in die aand. Die polisieman het my ma gevloek en toe ek hom daaroor konfronteer en sê hy moenie oor mense praat wat nie saam met ons is nie, het hy my aangeval.”

Mnr. Cooper sê die polisieman het sy wysvinger gegryp en so ver agteroor gebuig dat dit verstuit is. Volgens die slagoffer het die man toe ’n klap na sy kop gemik. Hy vertel toe hy met die hand waarvan die vinger verstuit is, wou keer, is sy oor in die proses beseer.

“Die man het my hand teen my kop vasgeklap. Dit was ’n harde slag en ek was bang my oordrom is dalk beseer. Ek moes Mariental toe gaan vir mediese behandeling en het ’n klag van aanranding teen die betrokke polisiebeampte gelê.”

Volgens mnr. Cooper spruit die aanval uit ’n voorval waar polisiebeamptes twee ander mans, Domjan Kooper en Gerhard Lodewyk, na bewering aangerand het. Ten tye van die voorval het mnr. Cooper foto’s van die slagoffers geneem en dit is in Desember verlede jaar in die koerante gepubliseer.

Hy vertel dat hy die bloedbroer van James Hansen is. Mnr. Hansen het in Augustus met die polisie gebots en het uiteindelik saam met ’n skaap in die polisieselle op die dorp beland. Hansen het die skaap in die sel verwurg.

Enkele dae ná die skaapvoorval is hy opnuut in hegtenis geneem omdat hy die werknemers van ’n vulstasie in sy dronkenskap geteister het.

Die bevelvoerder van die polisie in die Hardap-streek, adjunkkommissaris Kobus Meyer, het die voorval met Cooper bevestig. Volgens hom is hulle raadop met die sogenaamde gemeenskapsaktiviste.

“Ek het ná die voorvalle van verlede jaar die beamptes van verskillende polisiekantore in die streek na kantore op ander dorpe verplaas en van hulle uitgeruil. Die polisiebeampte wat by die nuutste voorval betrokke was, is nog nie eens drie weke op Kalkrand gestasioneer nie.”

Adj.komm. Meyer sê hy ontvang daagliks klagte van sy beamptes oor die gemeenskapsaktiviste wat sonder ophou agter hulle aanloop en moeilikheid soek.

“Die mense raak by elke moontlike geleentheid in ’n stryery met die polisiemanne betrokke. Wanneer ’n beampte sy humeur verloor en hulle aanspreek, raak die stryery net erger en hits hulle mekaar aan.”

Volgens adj.komm. Meyer moet iets drasties gedoen word om die vrede tussen die gemeenskapsaktiviste en die polisie van Kalkrand te herstel.

Beide mnre. Cooper en Hansen verwys na hulself as gemeenskapsaktiviste wat die inwoners van Kalkrand moet bystaan wanneer dit by polisiesake kom.

“Die mense ken nie die wet nie en ons moet hulle ten alle koste help om viktimisering deur die polisie te voorkom.”