Wet op burgerskap gewysig
Wet op burgerskap gewysig

Wet op burgerskap gewysig

Estelle de Bruyn
Estelle de Bruyn - Wysigings aan die Wet op Burgerskap (Wet 14 van 1990) is nodig vanweë ’n veranderde vertolking van Artikel 4 van die Grondwet, het die minister van binnelandse sake en immigrasie, me. Pendukeni Iivula-Ithana, gesê.
Op 23 Junie het die hooggeregshof uitspraak gelewer dat mense wat ná onafhanklikwording in Namibië gebore is van ouers wat in Namibië woonagtig is, maar nie burgerskap het nie, op burgerskap geregtig is.
Iivula-Ithana het verduidelik dat buitelanders wat met werkpermitte in die land is, se seun op 27 Oktober 2009 gebore is. Hulle het die kind laat registreer en die kind is as ’n nie-Namibiese burger geregistreer.
In 2012 het hulle nog ’n kind gehad en sy geboorte geregistreer. Die amp­tenaar wat die geboorte geregistreer het, het verkeerdelik ’n geboortesertifikaat uitgereik waarin die kind as ’n Namibiese burger geregistreer is.
Die egpaar het daarna daarop aangedring dat hul eerste seun ook Namibiese burgerskap moes kry. Hulle het die saak na die hoërhof geneem wat teen die ouers en ten gunste van die ministerie beslis het. Hulle was nie tevrede met die uitspraak nie en het die aangeleentheid na die hooggeregshof geneem, waar die beslissing teen die ministerie gelewer is.
Die term “gewone inwoner” word nie in die Grondwet of die wet op burgerskap omskryf nie. Die kantoor van die prokureur-generaal het ook sy eie mening oor die aangeleentheid gehad en dit is volgens Iivula-Ithana “katastrofies” om soveel uiteenlopende vertolkings van ’n wet te hê.
Ingevolge die hooggeregshofuitspraak sal elke saak waar iemand sê hy of sy is ’n “gewone inwoner” soos in Artikel 4 van die Grondwet na verwys word, op meriete hanteer moet word. Verder moet administratiewe amptenare “mooi dink oor die feite om te bepaal of iemand ’n gewone burger is”.
Iivula-Ithana sê dit sal ’n reuse-administratiewe las vir die ministerie teweeg bring.
Geboortesertifikate word dadelik uitgereik en ’n oorweging van elke individuele geval is nie moontlik nie.
“Burgerskap deur middel van geboorte of afstamming kom met sekere voordele. Ek is nie daarvan oortuig dat die Grondwetskrywende Vergadering bedoel het dat sommige van hierdie voordele mense wat net toevallig hier gebore is, beskore moet wees nie,” het Iivula-Ithana gesê.
Sy het die volgende voorbeeld genoem: Kragtens die Grondwet kan enige iemand wat Namibiese burger­skap deur middel van geboorte of afstamming het en ouer as 35 jaar is, as lid van die Nasionale Vergadering verkies word en ook as die president van die land verkiesbaar wees.

Probleme
Iivula-Ithana het verduidelik dat die ministerie baie probleme ondervind het met die implementering van die hooggeregshof se beslissing.
Sy het Artikel 81 van die Grondwet aangehaal wat onder meer voorsiening daarvoor maak dat die parlement ’n besluit van die hooggeregshof kan omkeer deur wetgewing tot die teendeel te aanvaar.
Die wysigings aan die bestaande wet maak die terminologie duidelik en bepaal dat kinders wat ná onafhank­likwording in Namibië gebore is van ouers wat nie Namibiese burgers is nie, nie op Namibiese burgerskap geregtig is nie.
Kragtens die wysigigingswetsontwerp sal die term “gewone” inwoner, sover dit Namibiese burgerskap deur middel van geboorte in Namibië raak, ouers wat in die land is met werkpermitte, studiepermitte, besoeker-toegangspermitte en die kinders van vlugtelinge wat hulle ten tyde van die geboorte in Namibië bevind, van enige aanspraak op burgerskap uitsluit.
Vanweë teenstrydighede en spelfoute het mnr. Usutuaije Maamberua van Swanu in sy bydrae gevra oor die haas waarmee die wetsontwerp voorberei is.
In die wysigingswetsontwerp word verwys na kinders wat ná “onafhank­likheid” eerder as die “datum van onafhanklikwording” gebore word deur “vaders” en moeders wat nie burgers is nie. Maamberua wou weet of die term ouers nie meer van pas sou wees nie omdat vaders nie geboorte kan skenk nie. Elders in die wetsontwerp word die woord “grunt” in plaas van “grant” en “horn” in plaas van “born” gebore.
Die prokureur-generaal, mnr. Sackey Shanghala, het die opposisie vir sy bydrae bedank aangesien vooraf met hulle beraadslaag is en waardevolle bydraes ontvang is.
Hy het om verskoning gevra vir die spelfoute en die sekretariaat van die NV versoek om sodra wetsontwerpe van die drukkers ontvang word, dit na sy kantoor gestuur word sodat dit nagegaan kan word.
Die wetsontwerp is vir die tweede keer gelees.

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 16° | 35° Rundu: 16° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 18° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 17° | 33° Windhoek: 16° | 30° Gobabis: 17° | 31° Henties Bay: 17° | 24° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 17° | 21° Wind speed: 23km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 27° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 32° Mariental: 21° | 34° Keetmanshoop: 23° | 34° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 18° | 31° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 16° | 27° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 20° | 33° Lubumbashi: 15° | 26° Mbabane: 16° | 30° Maseru: 13° | 27° Antananarivo: 13° | 27° Lilongwe: 15° | 27° Maputo: 19° | 32° Windhoek: 16° | 30° Cape Town: 17° | 26° Durban: 19° | 26° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 17° | 28° Harare: 14° | 29° #REF! #REF!