Veldatlete bestorm die Brandberg
Des Erasmus - Die afstand is net 28 kilometer, maar die geskatte inkomtyd van veldatlete sal eers sowat 2 uur 30 minute later wees. Dit dui op hoe uitmergelend die roete vir Saterdag se Brandberg Rhino Run met Uis as basis gaan wees. Nie dat die bergfietsryers dit makliker oor ’n afstand van net 30 km gaan vind nie.
Die Renosterdraf se gewildheid onder bergfietsryers en veldatlete het binne ’n jaar verdriedubbel. Verlede jaar was daar sowat honderd deelnemers met die eerste byeenkoms in die wildernis van Damaraland.
Toe inskrywings Vrydag gesluit het, was daar reeds 306 registrasies deur langasems en bergfietsryers. “Al kom daar laat inskrywings sal ons ’n plan maak om die drawwers en fietsryers op te neem,” sê Riana Scholtz van Uis, wat saam met haar man, Nic, organiseerders van die Brandberg Rhino Run is. Sy is self ’n langafstandatleet.
So gewild het die byeenkoms binne ’n jaar geword, dat elke beskikbare lêplek op Uis lank voor die tyd bespreek was. Die deelnemers sal op verskillende kampeerterreine op Uis hul eie ding doen. Selfs ondersteuners van die deelnemers word aangeraai om hul eie saamslaanstoele en messe, vurke en bekers saam te bring.
Vrydagaand sal die byeenkoms voorafgegaan word met ’n vleisbraaiery en veiling by die Daureb Isib-kampeerterrein aan die buitewyke van Uis. Dis ook waar die wegspringplek Saterdagoggend gaan wees en die wenpaal gaan staan.
Teen gister het verlede jaar se wenner van die langer afstand, Erich Goeieman van Walvisbaai, hom reeds ingeskryf. Sy segetogte in The Rock, ’n veldwedloop rondom die Spitzkoppe, het hom reeds die bynaam van Koning van die Berge besorg.
Johan Bronkhorst van Swakopmund, nog ’n ultra-drawwer en vars terug van ’n voltooide Comrades binne nege ure, was verlede jaar tweede. Ook hy het hom weer vir die Renosterdraf ingeskryf.
Verlede jaar is die korter afstand oor 13 km deur Albertus Goeieman, jonger broer van Erich, gewen. Ook hy het laat weet dat hy Saterdagoggend weer sal aantree.
Die roete self is ’n bietjie makliker as verlede jaar se eerste aanslag op die bergland. Van die langer sandskofte is korter gemaak, maar sand en rots en optes en aftes gaan daar steeds wees met die Brandberg in die verte wat as baken gaan dien.
In belang van bewaring sal toeskouers nie op die roete self toegelaat word nie. Hulle sal die atlete wel twee keer in aksie sien wanneer die drawwers en die fietsryers se roete die hoofweg tussen Uis en Khorixas sowat 3 km en weer sowat 6 km buite die dorp gaan kruis.
Atlete sal nie toegelaat word om plastiekbottels of ander houers op die roete te dra nie en moet vir hul eie bekers sorg. Selfs by die draaipunt sal hul watervoorraad net in hul eie houers aangevul word. Op die roete mag deelnemers in belang van die bewaring van die gebied niks weggooi nie.
Die opbrengs van die byeenkoms is vir die Red die Renosterfonds bestem.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie