Stel grondkonferensie uit, su00ea Nangof
Stel grondkonferensie uit, su00ea Nangof

Stel grondkonferensie uit, sê Nangof

Soek direkte verteenwoordiging
Catherine Sasman
Catherine Sasman - Die Namibiese Forum vir Nie-regeringsorganisasies (Nangof) se werkgroep oor grondhervorming sê die tweede grondkonfe­rensie wat na verwagting in November gaan plaasvind, moet uitgestel word sodat alle rolspelers hulle behoorlik vir hierdie beduidende en geskiedkundige gebeurtenis kan voorberei.
Die minister van grondhervorming, mnr. Utoni Nujoma, het op 24 Augustus aangekondig dat die konferensie voorafgegaan sal word deur in­dringende raadplegende vergaderings oral in die land.
Hy het ’n week gelede aangekondig dat die konferensie in November sal plaasvind, sonder enige aanduidings oor wanneer die streekkonsultasies gaan begin.
Teen gisteroggend kon die ministerie se woordvoerder, mnr. Chrispin Matongela, nog nie sê of ’n skedule vir hierdie konsultasies opgestel is nie.
Dit word verstaan dat die kantoor van die president egter daarop aandring dat die konferensie binne die eerste jaar van die inwerkingstelling van die Harambee-welvaartplan moet plaasvind.
“Ons kan nie toelaat dat die konferensie ontaard in ’n geselsprogram, iets wat jy as afgehandel kan afmerk nie,” het mnr. Uhuru Dempers van die Evangeliese Lutherse Kerk in die Republiek van Namibië (ELCRN) se hulpkantoor vir maatskaplike ontwikkeling, gesê.
Die Nangof-groep het gister op ’n mediakonferensie gesê dit gaan desnieteenstaande voorberei vir die komende konferensie deur sy eie streekvergaderings veral in Hardap, //Kharas, Omaheke, Khomas, Otjozondjupa, Erongo, Kunene-Suid en Oshikoto-Suid te hou.
Die organisasie sê dit is egter bekommerd oor die feit dat ’n agenda vir die grondkonferensie nog nie aangekondig is nie. Die ministerie het blykbaar ’n agenda voorgestel wat slegs geskoei is op ’n evaluering van die 24 resolusies van die eerste grondkonferensie wat in 1991 gehou is.
Nangof wonder egter of onafhank­like navorsers, grondkenners en akademici aangestel is om onafhank­like en deeglike evaluerings te maak en wil weet of staatsamptenare in die ministerie dit wat sedert onafhanklikwording gedoen is, gaan evalueer.
Nangof sê ook dat die ministerie nie op sy eie houtjie die konferensie kan reël nie omdat dit van nasio­nale belang en ’n baie sensitiewe kwessie is.
Dit stel voor dat ’n reëlingskomitee bestaande uit alle belanghebbendes eerder aan die spits van die reëling van die konferensie moet wees.
Só ’n reëlingskomitee, sê Nangof, moet bestaan uit lynministeries sowel as burgerorganisasies wat grondlose Namibiërs, kerke, boereverenigings, vakbonde en die private sektor insluit. Die komitee sal oor die agenda van die konferensie, deelname, kenners en ander belangrike kwessies van inhoud kan besluit.
Nangof meen ook dat streek- en tradisionele leiers nie ander se belange kan verteenwoordig nie, en sê grondloses, boereverenigings en begunstigdes van hervorming moet hulle direk op die konferensie verteenwoordig en moet die meerderheid deelnemers by dié geleentheid wees.
Dit het ook voorgestel dat die ministerie intussen nie kan voortgaan met “sake soos normaalweg nie” en dat enige interne beleidformulering tot ná die afloop van die grondkonferensie teruggehou moet word.
Ander kwessies wat Nangof wil hê aandag moet geniet, is die stadige pas van grondhervorming veral aangesien die eerste grondkonferensie reeds besluit het om meer as 100 plase in besit van buitelanders te onteien.
Die organisasie vra vir ’n herbesinning oor regte op voorvaderlike grond en wettige grondonteiening as deel van die volksmoord-regstellings­onderhandelinge tussen die Namibiese en Duitse regering.
“Die Duitse koloniale bewind en die uitwissingsbevel van inheemse bevolkings en onteiening van grond het beteken dat Namibiërs die meeste van hul waardevolle landbougrond weens militêre verowering deur koloniste verloor het.
“Die sentrale en suidelike streke wat veral bewoon is deur die OvaHerero, Nama, Damara en San, was veral deur koloniale gronduitsettings geaffekteer,” sê Nangof.
Ander kwessies wat Nangof wil hê aandag moet geniet, is onwettige omheinings in kommunale gebiede, kwytskelding van kommersiële plaasboere, steun aan hervestigingsplase en die ontwikkeling van kommunale grond.

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 16° | 35° Rundu: 16° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 18° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 17° | 33° Windhoek: 16° | 30° Gobabis: 17° | 31° Henties Bay: 17° | 24° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 17° | 21° Wind speed: 23km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 27° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 32° Mariental: 21° | 34° Keetmanshoop: 23° | 34° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 18° | 31° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 16° | 27° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 20° | 33° Lubumbashi: 15° | 26° Mbabane: 16° | 30° Maseru: 13° | 27° Antananarivo: 13° | 27° Lilongwe: 15° | 27° Maputo: 19° | 32° Windhoek: 16° | 30° Cape Town: 17° | 26° Durban: 19° | 26° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 17° | 28° Harare: 14° | 29° #REF! #REF!