Semifinale sal vir volle kwota drama sorg

Die stampe en stote van die ligaseisoen sal vergete wees wanneer die topvier ontmoet om te bepaal wie in die finaal gaan speel.
Tielman van Lill
Tielman van Lill - Die 2019 Momentum-rugbyliga vir hoërskole bereik vandag en môre 'n hoogtepunt wanneer 34 spanne van 16 skole mekaar by die Hage Geingob-stadion in 17 semifinale die stryd aansê.

Die rugbyreuse Windhoek Hoër­skool en Windhoek Gimnasium spog elk met vyf spanne, terwyl tien skole met twee spanne en vier skole met een span elk só ver gevorder het.

Vandag se hoogtepunt breek om 21:00 aan met die eerste semifinaal van die o.19 Superliga tussen die verdedigende kampioen, KMC/JCC Windhoek Afrikaanse Privaatskool en Schoemans-groep Windhoek Gimnasium se Leeus. Dit is 'n herontmoeting tussen 2018 se finaliste.

Die tweede klimaks is môreaand wanneer Rubicon Tsumeb Gimnasium 1 se Renosters dit om 18:40 teen die Samsung WHS Koedoebulle vir die ander plek n die finaal uitspook.

Beide Affies en die Leeus het puik seisoene agter die blad, terwyl veral Tsumeb sekerlik sal wil wys dat sy enkele glipsie teen WHS in sy laaste (bykans betekenislose) ligawedstryd lankal vergete moet wees.

Die Koedoebulle, wat nie veel van 'n kans gegun is nie, se veldtog in die afgelope maande was heelwat meer wankelrig as dié van sy teenstander. Dalk het hoofafrigter Henry Kemp se troepe net op die regte tydstip hul beste peil bereik, terwyl Wouter Niehaus, hoofafrigter van Tsumeb, twee weke gehad het om na die tekenbord vir vars planne terug te keer.

Op hul beurt is beide mnre. Johan Zaayman (Affies) en Jaco Engels (Windhoek Gimnasium) ook gesoute strateë wat weet hoe om belangrike wedstryde te wen. Affies het sewe van sy agt ligaverpligtinge gewen, terwyl die Leeus twee keer vasgeval het (teen WAP en Tsumeb).

Maar dié uitslae is geskiedenis en al wat die naweek saakmaak, is die eindtellings. Al vier skoolhoofde en afrigters van die vier topskole in die Superliga is vir kommentaar genader.

Mnr. Kobus Espach, hoof van Affies: “Baie sterkte aan al die skole wat betrokke is. Dit is voorwaar 'n groot prestasie vir elke speler om as verteenwoordiger van sy skool op te draf. Mag die beste span wen en goeie sportmangees die wagwoord vir elke speler wees. Aan die Windhoek Affies-spelers, doen wat julle die hele seisoen nog gedoen het; ons is trots op julle.”

Zaayman sê: “Die seisoen staan einde se kant toe en die spanning loop maar hoog soos wat gewoonlik die geval met semifinale is. Dit was 'n seisoen waar enige span die ander op die dag kon klop. Ons het grootliks van beserings gespaar gebly en die ouens is almal fiks. Vir alle skole wat spanne in die semifinale het, sterkte en baie geluk met die seisoen sover.”

Mnr. Petri van Wyk, hoof van Tsumeb Gimnasium, sê: “Wat 'n voorreg om die afgelope seisoen teen fenomenale skole te kon deelneem! Met harde werk en 'n uithouer-gees staan ons almal op die vooraand van 'n semifinaal wat vir niks gaan skrik nie!

“Vier groot skole gaan kompeteer om uiteindelik die finale span te lewer wat die beker volgende naweek gaan oplig. Mag elke deelnemende skool wat reis veilig in Windhoek aankom en ook veilig terugkeer. Mag gesonde sportmangees seëvier en mag die beste span wen. Sterkte Windhoek Affies en Windhoek Gimnasium met julle kragmeting!

“Aan my Gimmie-ysters; julle was deur baie hierdie afgelope jaar en het onmenslik hard gewerk om hier te kom. Die hele skool staan agter julle met maroen wat deur ons are vloei. Ons sal julle dra tot die einde toe! En laastens, aan Windhoek Hoërskool, Die Renosters is op pad.”

Mnr. Niehaus sê: “Ons het net een speler wat harsingskudding opgedoen het wat nog fiks verklaar moet word. Mag elke speler, afrigter en toeskouer Sondagoggend opstaan en sê, dit was nou 'n fantastiese rugby-naweek! Dit sal vir Tsumeb Gimnasium 'n eer wees om saam en teen ware geharde sportmanne op die veld te draf.

“Mag ons elkeen 'n oorwinning in nederigheid en die verloor met waardigheid hanteer.”



HIER EN DAAR 'n SKEET

Mnr. Abrie Myburgh, skoolhoof van Windhoek Gimnasium: “Skolerugby sorg vir groot opwinding dié tyd van die jaar. Dis 'n groot voorreg vir ons as Curro Windhoek Gimnasium om kragte met WAP te meet.

“Mag die seuns mooi rugby speel en hul skool se naam hoog hou. Ons vertrou dat hulle vriendskapsbande op en van die veld sal bou en dit 'n onvergeetlike naweek sal maak. Sterkte ook aan al die ander skole wat die naweek betrokke is in die semifinale. Mag dit 'n blink vertoonvenster vir Namibiese rugby se toekoms wees.”

Jaco Engels, breier van die Leeus: “Ons het 'n paar spelers met skete wat nog geëvalueer moet word, maar verder is ons 98% reg met beide ons eerste en tweede spanne. Ons was vanjaar werklik geseënd met min beserings.

“Die seuns is baie opgewonde oor die semi's, wat groot en spanningsvolle botsings is. Ek moet sê die seuns se koppe lyk reg. Dit is 'n lekker groot geleentheid en ons hoop die hele Windhoek kom ondersteun die seuns. Op die einde gaan dit oor die seuns en rugby en nie wat ander mense wil hê en doen nie.

“Ons wil brûe tussen skole bou en hierdie 'n baie groot naweek maak.”

Mnr. Hawie Engels, hoof van WHS: “Ons het vanjaar vyf spanne in die semifinale. Ek kan nie onthou wanneer laas daar soveel eerste spanne in die premierliga was wat só goed teen mekaar opgeweeg het nie. Die een Saterdag het een span gewen en die volgende naweek was dit weer die ander span wat almal verras het.

“Niemand kan met sekerheid 'n uitslag vir die naweek se Superliga voorspel nie; dit gaan twee baie gelykop stryde wees. Die feit dat soveel spanne op dieselfde kompeterende vlak is, is beslis 'n pluimpie vir ons seuns en afrigters en rugby in die algemeen.

“Welgedaan aan elkeen vir die harde werk wat julle die afgelope jaar ingesit het. Wie gaan wen? Sekerlik die span wat die dag geestelik voorbereid is, sy geleenthede in punte omskep en waar elkeen van die 15 spelers op die veld sy deel bydra deur hul kanse.

“My wens is dat sport sal seëvier, dat dit 'n goeie vertoonvenster vir rugby in Namibië sal wees en dat ons mekaar aan die einde van die dag kan gelukwens met rugby as die wenner. Daar heers groot opgewondenheid en almal moet veilig na Windhoek reis waar ons lekker kan kompeteer en mekaar as vriende kan gelukwens.”

Henry Kemp (WHS-afrigter): “Ons het die afgelope week min geoefen, want die manne was maar gekneus ná die botsing verlede Saterdag teen die Naartjies. Tsumeb is groot en fisiek en gaan met hul groot pak voorspelers ons in die lynstane en skrums onder druk plaas. Dit gaan kliphard wees, want hulle gaan alles gee.

“Ons kyk maar wat gebeur, ons hoop vir die beste en is geweldig dankbaar om in die semifinale te kan speel.”



Die o.19 Superliga-spanne:

Affies: 15 Jeandré Loubser, 14 André Siepker, 13 Jonathan Hanekom, 12 Christo Liebenberg, 11 Arthur Lewies, 10 Keanu Engelbrecht, 9 Louis Karsten, 8 Bernhardt Wessels, 7 De Wet Oosthuizen (k), 6 Kobus Wilders, 5 Marius Wessels, 4 Adriaan Kotze, 3 Johan Brockmann, 2 Benno von Wielligh, 1 Ernst Lowe. Reserwes: Kristopher Peacock, Fergus Smith, Theo du Plessis, Leon Maree, Fanus Jurgens, Jaco Kotze, Diwan van Rensburg.



Windhoek Gim: 15 Aiden Louw, 14 Lyle Beukes, 13 Kieron Diergaardt, 12 Sammy Poultron, 11 Mell Theunissen, 10 Cornez Liebenberg, 9 Jahno du Plessis, 8 Lean Rossouw, 7 Ethan Rittman-Gaya, 6 Zander Bronkhorst, 5 Jaun Louis Zaayman, 4 Michael Thuynsma (k), 3 Ethan Thiart, 2 Shaun van Wyk, 1 Herschelle van Wyk. Reserwes: Arnu Gouws, Mduduzi Phiri, Marco Lombard, James Heyman, Jaco Enslin, Wian Loubser, Altus Opperman, Jean-Pierre Steyn.

Tsumeb Gim: 15 Lister Cochrane, 14 Jandrá Hauward, 13 SJ Louw, 12 Benjamin Boshoff, 11 Zander du Plessis, 10 Bothma Keyser, 9 Christin Opperman, 8 WJ Otto (k), 7 Frikkie Engelbrecht, 6 Andries Steenkamp, 5 Izak Grobbelaar, 4 Pieter-Daan Kok, 3 Thinus van Wyk, 2 Friedrich Grobbelaar, 1 Bernd Beddies. Reserwes: Renier van Zyl, James Hinga, Jaco Swanepoel, Ruan Pienaar, Keenan Prosser, Mario Nel, Wian Geldenhuys, Amandio Louw-Victor.

WHS: 15 Geraldo Beukes, 14 Patrick Karsten, 13 Maandero Haimbodi, 12 Zian van Wyk, 11 Emill Weder, 10 Raschano van Rooi, 9 Tyreese de Wee, 8 Sheron Rossouw, 7 Donovan Resandt, 6 Riekus van Staden, 5 Frans Grobbelaar, 4 Erik Strauss (k), 3 Iyambo Tshuuya, 2 JC Rossouw, 1 Daniel Opperman. Reserwes: Jacques Maree, Edmando Coetzee, Conwill Draghoender, Riaan Grové, Fouche Windstaan, Joubert Steyn, Keanan Walters, Dylan Denysschen.

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 16° | 35° Rundu: 16° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 18° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 17° | 33° Windhoek: 16° | 30° Gobabis: 17° | 31° Henties Bay: 17° | 24° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 17° | 21° Wind speed: 23km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 27° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 32° Mariental: 21° | 34° Keetmanshoop: 23° | 34° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 18° | 31° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 16° | 27° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 20° | 33° Lubumbashi: 15° | 26° Mbabane: 16° | 30° Maseru: 13° | 27° Antananarivo: 13° | 27° Lilongwe: 15° | 27° Maputo: 19° | 32° Windhoek: 16° | 30° Cape Town: 17° | 26° Durban: 19° | 26° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 17° | 28° Harare: 14° | 29° #REF! #REF!