Parlement minag hooggeregshof
Ronelle Rademeyer - Die aanvaarding van die Wysigingswet op Namibiese Burgerskap verlede week deur die Nasionale Vergadering in stryd met 'n hooggeregshofsuitspraak, is die ergste vergryp teen die Grondwet, die oppergesag van die reg en die skeiding van magte sedert Namibië se onafhanklikwording.
Só sê die president van die Vereniging van Advokate van Namibië, adv. Esi Schimming-Chase, in 'n verklaring waarin dié vereniging gister 'n beroep op pres. Hage Geingob gedoen het om nie sy toestemming vir die aanvaarding van die wysigingswet te gee nie.
Die hooggeregshof het einde Junie in ’n belangrike uitspraak beslis dat Namibiese burgerskap aan die Namibies-gebore kind van buitelandse ouers met 'n geldige werkpermit toegeken word en ’n volledige geboortesertifikaat binne 30 dae aan hom uitgereik word.
Regters Petrus Damaseb, David Smuts en Kate O’Regan het uitspraak gelewer in die appèl van ’n aansoek wat deur mnr. Marius Cornelius de Wilde teen die minister van binnelandse sake ingedien is.
Hy en sy vrou woon sedert 2006 in Namibië en is die houers van ’n geldige werkpermit wat volgens Namibiese immigrasiewetgewing uitgereik is. Hulle seun, Bram, is hier gebore en is nou ses jaar oud. Die ministerie van binnelandse sake het Namibiese burgerskap aan Bram geweier en aangevoer dat hy net ’n geboortesertifikaat kan kry indien sy ouers permanente burgerskap het en hulle kragtens die Immigrasiebeheerwet “normaalweg woonagtig” in Namibië is.
Die hooggeregshof het egter in sy appèluitspraak beslis dat Bram op burgerskap geregtig is omdat sy ouers normale verblyf in Namibië geniet soos in Artikel 4(1)(d) van die Namibiese grondwet uiteengesit.
Schimming-Chase sê die Nasionale Vergadering het die wysigingswet aanvaar " met die uitdruklike voorneme om teen die hooggeregshofuitspraak" op te tree.
" Asof dit nie genoeg was nie, het die parlement verder gegaan en beveel 'dat geen regte kan ontstaan op grond van die hooggeregshof se bevinding in die De Wilde-saak nie'. Die parlement probeer sy wil afdwing deur die hooggeregshof se vertolking van Artikel 4(1) van die Grondwet te ontken," lui die verklaring.
Volgens die vereniging is 'n wysiging van die Grondwet die enigste wettige wyse ingevolge waarvan die wysigings aan die wet kan geskied en die parlement het nie dié roete gevolg nie.
" Die Vereniging van Advokate is diep bekommerd oor die impak hiervan. Hierdie wetswysiging bevat die ergste vergrype teen die Grondwet, die oppergesag van die reg en die skeiding van magte binne die grondwetlike demokrasie sedert Namibië se onafhanklikwording."
Die vereniging doen in die lig hiervan 'n beroep op die staatshoof om in te gryp en goedkeuring te weier op grond van sy magte kragtens Artikel 64 van die Grondwet.
" Dit sal die prokureur-generaal die reg gee om die grondwetlikheid van die wysigingswet na die hooggeregshof terug te verwys om die finale seggenskap daaroor te hê," sê Schimming-Chase.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie