’n Skraal man kom kuier vir ou dikke
Des Erasmus - “Gereed vir inspeksie.”
Verbeel ek my of is dit 'n stem hier van die kombuis se kant af. Die ”gereed vir inspeksie” klink bekend uit 'n eertydse samelewing van militêre parades en inspeksies, maar dan was dit die “sarge”of een van sy gelykes wat aangekondig het dat die peloton gereed is vir inspeksie. In 'n huis van vrede beweeg daar g'n soldategestalte nie, maar wel 'n dikkert wat 'n bietjie geïnspekteer moet word.
Dan is dit die dikketon, “dikke”vir “dik” en ”ton” vir die amperse gewig wat deurgekyk moet word. In dié geval is die inspekteur ene Tim wat sy intrek hier in 'n laskamer kom neem het. Weer op uitnodiging, want die asem het begin hyg wanneer die pens ingetrek moes word om die buikgordel op sy laaste gaatjie vas te kry.
Noakes, Tim Noakes, so sê die medehuismens vir hom. Ou bekende uit soortgelyke ramptoestande van die verlede. In wese gaan dit oor hierdie mens wat die badkamerskaal se koors opjaag wanneer daar net by die yskas langs gestap word. Daarby nog was dit die winter. Die koue wat die seewind bring, is 'n aptytwekker. Word dit met die verbode kos gestil, kom daar weer volgens die geleerdes ontbranding deur die wonder van die liggaam en die brand bring hitte.
Dis soos die vuur van die liefde wat in my jonkheid hoog gebrand het.
Innergeval, dié kêrel Tim het al in die verlede wondere gedoen met die kwellinge van 'n oorgroeide liggaam.
Terwyl ek so effens verskuil onder 'n kombersie sit, kan hy dan maar voortgaan met sy inspeksie van die huisparade. Sommer 'n regte ou vroetelaar en snuffelaar.
Sommer reg onder een van my muurspreukies op Knysna-hout begin hy met sy ondersoek na my bronne van alle kwaad. Dis amper of die teksie op die duur hout in ou Tim se Engels ter versagting pleit: ”Watching you diet is easier than following it”.
Het gemeen hy gaan sy volle ondersoek afhandel en my dan die dôdskôt gee. Hy verkies anders. Hy sal die gif so bietjie vir bietjie ingee of uit my trek. Oorsigtelik kry hy daar in die yskas g'n groot probleem nie. Die bietjie biltong en die bietjie droëwors en die happies kaas van verskillende soorte is nie doodsake nie. Solank die kaas net nie geprosesseer is nie. “Maar daardie een boonste rakkie, dit lyk soos 'n gewapende man se bandelier. Dis stafies sjokolade van feitlik al wat op die winkelrak is. Al wat jy gedoen het, was om die goed se papierrokkies uit te trek en hulle dan om jou middellyf te hang,”sê ou Tim.
In 'n oomblik van oorgawe word nie gestry nie, daar word net stip op een plek op die grond gekyk.
Sonder om op 'n verweer te wag, stap hy deur slaapkamer toe en ruk met vertoon die hangkas se deur oop.
Heel gou stap hy met mening met sy bakarms op sy heupe op my af. “Dis nogal opvallend dat jy baie klere, maar in sommer 'n paar nommers het. Die goed met die kleiner nommers het sulke effense plooitjies en effense stoffies of dit lank gelede gedra is. Die met die groter nommers het weer tekens dat dit verrek is. Kalorieë . . .”
Net daar val ek hom in die rede. “Kalorieë ken ek. Dis klein onsigbare wesentjies wat snags in jou hangkas kruip en jou klere kleiner maak.”
”Grappie”. Met die enkele woord verklap hy sy gebrek aan 'n humorsin.
Tog lyk dit of die eetboffin ook 'n bietjie meegevoel met ons dikkes het waar hy sonder 'n sitval in 'n dieperige stoel 'n geselsie aanknoop.
“Te oordeel aan die yskas het jy nie 'n bierpens nie. Gevolglik is dit net vet,” sê hy.
Dan begin hy met sy moets en sy moenies.
Versigtig word gevra of dit dan al is.
Nee, is sy antwoord. “Ek bly langer”.
En ek besef opnuut 'n dieet is nie 'n behandeling nie. Dis 'n leefwyse.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie