Konferensie aangebied om buitelandse beleid te hersien
Estelle de Bruyn
Ten einde Namibië se beleid oor internasionale betrekkinge en samewerking in pas te bring met die vinnig veranderende wêreld en mededingende nasionale belange, word ’n konferensie vanaf vandag tot Vrydag in Windhoek aangebied.
Die adjunkpremier en minister van internasionale betrekkinge en samewerking, me. Netumbo Nandi-Ndaitwah (foto), het op ’n mediakonferensie gesê die hersiening van die huidige beleid is noodsaaklik om te verseker dat Namibië by die vereistes van die komplekse globale omgewing aanpas.
“Elke buitelandse beleid is ’n weerspieëling van die land se geskiedenis en sy aspirasies vir die toekoms. Namibië se buitelandse beleid is teen die agtergrond van die bevrydingstryd en die einde van die Koue Oorlog opgestel en word deur artikel 96 van die Grondwet gelei.
“Kragtens die Grondwet moet Namibië deur middel van die land se internasionale betrekkinge, ’n beleid van onverbondenheid aanvaar en handhaaf; internasionale samewerking, vrede en veiligheid bevorder; regverdige en wedersyds voordelige betrekkinge met ander nasies handhaaf; respek vir internasionale reg en verpligtinge ingevolge verdrae verseker en die oplossing van internasionale dispute op vreedsame wyse aanmoedig,” het Nandi-Ndaitwah gesê.
’n Meer omvattende beeld hiervan is in die Witskrif op Buitelandse Beleid van 2004 vervat. Twaalf jaar later het dit tyd geword om dit te hersien.
Sy sê pres. Hage Geingob het met die naamverandering van die ministerie aangedui dat die naam meer as net ’n kosmetiese verandering verteenwoordig en dat in ’n geïntegreerde wêreld geen “buitelanders” is nie.
Die doel van die konferensie is om die impak van globale veranderinge op binnelandse beleid te ontleed en nuwe strategiese prioriteite te identifiseer sodat die maksimum voordeel uit internasionale betrekkinge geput kan word.
Van die temas van die konferensie sluit in armoede-uitwissing; landbou; die sogenaamde blou ekonomie ofte wel visserye; handel en belegging; multilaterale en bilaterale samewerking; infrastruktuur-ontwikkeling; grondhervorming; buitelandse diens; openbare diplomasie; kulturele diplomasie; onderwys; en geslags- en jeugbemagtiging.
Deelnemers aan die konferensie sal uit die geledere van die regering, parlement, die akademie, burgerlike samelewing asook bilaterale en multilaterale vennote kom.
Geingob sal die verrigtinge open.
By dieselfde mediakonferensie het Nandi-Ndaitwah aangekondig dat Namibië eersdaags vir die eerste keer ’n ambassade in Algerië sal open wat ook as ’n poort na die Arabiese wêreld moet dien.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie