Koedoebulle pronk na broekskeur-sege

WHS het oorleef om sy plek in die halfeind teen Rubicon Tsumeb Gimnasium in te neem.
Tielman van Lill
Tielman van Lill - Samsung WHS se eerste span het Saterdagmiddag by die Hage Geingob-stadion net-net daarin geslaag om sy Momentum o.19-Superliga kwarteindstryd teen Namib Diesel Walvisbaai Privaat Hoërskool met 29-27 in te palm.

Dié klipharde botsing tussen WHS se Koedoebulle en Walvisbaai se Naartjies was die laaste kwarteindstryd van die afgelope naweek se Momentum o.14- tot o.19-ligas, waar die skole verbete vir 'n plek in komende naweek se semifinale geveg het.

WHS, wat rustyd met 12-17 agter was, het danksy sy terugvegpoging vier drieë teenoor Walvisbaai se drie vyfpunters gedruk. In die eerste helfte tref heelagter Scott Winborn eerste om die Naartjie met 3-0 te laat voorloop.

Die kusspan slaan ses minute later toe met 'n drie van slot Niel Brand wat Winborn verdoel (10-0). Die Naartjies se losskakel Eli Engelbrecht plaas die Koedoebulle onder geweldige druk met sy algemene spel en rolskoppies na die kantlyn.

Walvisbaai verloor sy skrumskakel Johan van der Merwe wat in 'n plettervat sy bewussyn verloor en deur Drian Derks vervang word, wat hom uitstekend van sy taak kwyt. WHS se flank Donovan Resandt plant kort daarna sy span se eerste vyfpunter wat heelagter Geraldo Beukes nie verdoel nie (10-5).

Beide spanne verdedig soos tiere, maar buitesenter Dian Neethling slaan 'n bres vir Walvisbaai om agter die pale te gaan kuier. Winborn slaag met sy tweede doelskop (17-5) en dit wil voorkom of die golf oranje truie dalk een te veel vir die kampioenspan van 2017 gaan wees.

Maar hoofafrigter Henry Kemp se troepe wys hul karakter met haker JC Rossouw wat kort voor rustyd met kragspel oorval. Beukes bly koelkop met sy skoppoging en die spelers gaan rus met die telling op 17-12 in die Naartjies se guns.

Ná rustyd is daar 'n besliste dringendheid by WHS te bespeur wat sy tempo lig en binne die eerste vyf 'n pragdrie van regtervleuel Patrick Karsten behaal. Beukes slaag met sy derde doelskop en die Koedoebulle loop vir die eerste keer ná 40 minute se senutergende spel met 19-17 voor.

Die Naartjies se kaptein Victor van der Watt, wat Saterdag op binnesenter amok gesaai het, storm ná 'n netjiese beweging vir sy span se laaste vyfpunter deur wat suksesvol deur Winborn verdoel word om vir oulaas die leiding met 24-19 te neem.

Hoewel WHS met 'n strafskop deur Beukes tot 22-24 nader kruip, laat die Naartjies se Winborn hul voorsprong tot 27-22 met 'n strafskop aangroei. WHS se vuurvreter-haker Rossouw loods egter nog 'n aanslag op Walvisbaai se doellyn en loop drie verdedigers uit die pad vir sy tweede vyfpunter. Beukes skop opnuut sekuur en met net twee minute amptelike speeltyd oor soek die Naartjies drie punte om die agterstand van 29-27 uit te wis.

Die oranje golf kry dit so byna reg, maar hul laaste beweging kort van WHS se doellyn ontaard in 'n nagmerrie toe hulle die bal aanslaan en die eindfluitjie blaas.

Hoewel uiteraard teleurgesteld, wens mnr. Morné Rust namens die Naartjies se afrigtingspan die ander skole sterkte toe.

“Rugby was die wenner in dié titaniese stryd. Die wedstryd was baie hard en soos almal kon sien, het die Naartjies hul harte uitgespeel en alles op die veld gelos. Die seuns is baie hartseer, maar steeds trots om die Naartjie-tradisie te bou en uit te leef.

“Al die eer aan ons Hemelse Vader wat ons die talente gegee het. Sterkte aan WHS, Rubicon Tsumeb Gimnasium en Schoemans-groep Windhoek Gimnasium asook KMC/JCC Affies wat komende naweek in die semifinale opdraf. Ons weet die rugby sal van uitstaande gehalte wees,” het Rust laat weet.

Kemp sê karakter het sy WHS-span laat seëvier.

“Ons is dankbaar vir die oorwinning, want dit was 'n taai botsing met Walvisbaai wat enige tyd in die doodsnikke punte kon aanteken. As hulle daardie laaste strafskop aan die einde pale toe gemik het, het ons met 'n punt verloor.

“Wat my trots maak, is die karakter wat die spelers gewys het. Ons het die laaste tien minute met net 14 manne gespeel en JC Rossouw het gaan druk en Beukes se skop was oor.

“Ek is dankbaar dat ons deur is na die semifinaal. Dit gaan 'n wrede botsing wees met Tsumeb wat alles in die stryd gaan werp met hul groot en fisieke voorspelers onder aanvoering van Pieter-Daan Kok. Ons moet maar kyk wat gebeur,” het Kemp trots vertel.

Erik Strauss, kaptein van WHS sê: “Walvisbaai het rêrig met alles gekom. Dit was 'n ongelooflike harde wedstryd en sekerlik ons hardste van die jaar. Die oorwinning was nie maklik nie; ons het baie foute gemaak en dinge wou maar net nie vir ons reg verloop nie.

“Die skeidsregter was uitstekend (Nicardo Pienaar) en ek dink die geluk was op die dag aan ons kant. Hul skopper was met die laaste strafskop nie daar nie, want hy sou definitief die laaste skop oorgesit het, maar toe mik hulle eerder vir die kantlyn om van daar aan te val, wat nie vir hulle uitgewerk het nie.

“Ek dink ons het uitstekende karakter gewys om die wedstryd met net 14 man op die veld te wen toe ek af was,” het die kaptein afgesluit.



VRYDAG SE UITSLAE

1 (o.19C) HTS I 32-17 WAP II. WAP se drieë deur Wayne Rust en Danie Delport. Mario van Wyk behaal twee doel- en een strafskop. HTS druk vyf drieë, verdoel drie en voeg twee strafskoppe by.

2 (o.14B) Dr. Lemmer 39-12 WHS B.

3 (o.15B) Dr. Lemmer 24-32 Windhoek Gimnasium B.

4 (o.19D) M&K Gertze II 21-31 Gobabis Gimnasium I. Gobabis se drieë kom van Nico Mostert, Willem Lottering, Michael Coetzer, Vehana Muuoja en Marco Smith. Smith slaag met drie doelskoppe.

5 (o.19C) M&K Gertze I 36-13 Windhoek Gimnasium III. Gim se drieë deur JP Viljoen en Ugo Ikeakanam. Strafskop deur Francois Swanepoel.

6 (o.19B) Jan Möhr I 0-73 Windhoek Gimnasium II. Die wenspan se nege drieë is deur Greschlinn Bruwer, Wian Loubser, Dhale Cloete, Luan Isaacks (1 elk), David Farmer en Keanan Januarie (2 elk). Bruwer behaal 9 doelskoppe.



SATERDAG 27 Julie

7 (o.19D) Academia I 24-38 Rehoboth I.

8 (o.15B) Delta 15-22 Tsumeb Gimnasium. Tsumeb se driedrukkers is Boetie Jacobz en Nicolas Graaf (2). Skoppe: Graham Cilliers 1 straf- en 2 doelskoppe.

9 (o.19D) Delta I 33-22 Dr. Lemmer II. Dr. Lemmer se drieë km van Sylvio Hei-Gauseb (2) en Brian Bayer. Johnaldo Tities 2 doel- en een strafskop.

10 (o.15B) KPS 10-35 Pro-Ed Akademie.

11 (o.19D) HTS II 33-5 Grootfontein I.

12 (o.15B) Grootfontein Agri College 36-5 Okahandja Skole.

13 (o.19C) Walvisbaai II 64-31 Mariental Skole I. Driedrukkers vir Walvisbaai is Lucio Isaacs (2), Krynauw Bouwer (2), Alexander Jasen, AJ Visser, Bennicio Sissing, Keanu Gonteb, Ashley Mclobo, Drian Derks. Doelskoppe deur Brandon Seister (4) en Rashaan Saban (3).

14 (o.19B) Grootfontein Agri College I 71-10 WHS III. Agri se driedrukkers: Ludwig Huber, Dahaamin Bassardien, Ernest Atkinson, Lincoln Beukes (3), Zander Coetzee, Heinrich Coetzee, Max Ihuha, Hendrik van Zyl. Doelskoppe: Ian Grobbelaar 2, Huber 6, Johan van Zyl 1.

15 (o.19B) PK de Villiers I 24-51 WHS II.

16 (o.19B) Dr. Lemmer I 27-24 Moria II. Driedrukkers vir Dr. Lemmer: Breyton Snyders, Lee-Irvon Plaatjies, Kenneth Tities. Drie doel- en twee strafskoppe deur Brandon Bresser. Moria se drieë is deur Charlton Somseb (2), Kevin Esterhuizen en Frederik Mostert gedruk. Darren Beukes slaag met 2 doelskoppe en 1 strafskop.

17 (o.19 Superliga) Walvisbaai I 27-29 WHS I. Puntemakers: Walvisbaai. Drieë. Neil Brand, Dian Neethling, Victor van der Watt. Skoppe. Scott Winborn 3 doel- en 2 strafskoppe. WHS. Drieë: Donovan Resandt, Patrick Karsten, JC Rossouw 2. Geraldo Beukes voeg 6 doelskoppe en 1 strafskop by.

Puntemakers geplaas soos deur die onderskeie spanne se bestuur en afrigters verskaf.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

SerieA: Genoa 0 vs 1 SS Lazio European Championships Qualifying: Southampton 3 vs 0 Preston North End English Championship: Southampton 3 vs 0 Preston North End Katima Mulilo: 17° | 34° Rundu: 17° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 35° Ruacana: 18° | 35° Tsumeb: 19° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 19° | 34° Windhoek: 17° | 31° Gobabis: 18° | 31° Henties Bay: 17° | 23° Wind speed: 26km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:25, High tide: 13:40, Low Tide: 19:24, High tide: 01:48 Swakopmund: 16° | 19° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:23, High tide: 13:38, Low Tide: 19:22, High tide: 01:46 Walvis Bay: 19° | 26° Wind speed: 36km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:23, High tide: 13:37, Low Tide: 19:22, High tide: 01:45 Rehoboth: 18° | 31° Mariental: 22° | 33° Keetmanshoop: 23° | 35° Aranos: 20° | 32° Lüderitz: 18° | 34° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 15° | 27° Luanda: 27° | 30° Gaborone: 19° | 32° Lubumbashi: 17° | 26° Mbabane: 15° | 28° Maseru: 11° | 26° Antananarivo: 13° | 25° Lilongwe: 16° | 26° Maputo: 20° | 31° Windhoek: 17° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 18° | 28° Johannesburg: 16° | 28° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 18° | 28° Harare: 15° | 28° #REF! #REF!